Santa Fe Spur trek ’n nuwe baadjie aan!

Die heerlike nuwe stoeparea wat voor die Santa Fe Spur op Oudtshoorn aangebou is. Hier kan kliënte ’n heerlike koue lafenis in die somer of hul ete in die buitelug geniet.

Bo: Trompie Fourie (links) en Basjan van der Spuy, mede-eie­naars van die Santa Fe Spur. Foto’s: Angelique Erasmus

VIR die afgelope 37 jaar bring Santa Fe Spur op Oudtshoorn families en vriende bymekaar met liplekker, eg Suid-Afrikaanse kos en selfs heerlike kinderpartytjies wanneer die klein­span verjaar.
Spur het sy deure op Oudtshoorn die eerste keer op 5 Mei 1985 ge­open.

Daar is egter die afgelope 21 dae hard by dié restaurant gewerskaf en dit spog nou met ’n nuwe voorkoms.

“Ons wil alle Oudtshoorniete uitnooi om te kom kyk na al die harde werk wat die afgelope drie weke hier gedoen is om die Spur ’n splinternuwe voorkoms te gee,” sê Trompie Fourie, een van die eienaars.

Die Santa Fe Spur word besit deur Basjan van der Spuy, Deon Koen en Corne Fourie, beter bekend as Trompie, en verskaf werk aan vier bestuurders en 21 personeellede.

Van die nuwe items op hul spys­kaart sluit heerlike garnale in ’n romerige kaassous op ’n steak of op hoender in.

Tans is daar ook ’n spesiale aanbieding op hul bees-, vark- of hoender-schnitzel.

“Ons wil graag vir al ons jare-lange lojale kliënte bedank vir hulle wonderlike ondersteuning, en ook aan al die nuwe intrekkers in die dorp wat gereeld by ons kom eet. Dit is vir ons lekker om met nuwe mense kennis te maak.” sê Fourie.

Spur spog deesdae nie net met ’n nuwe voorkoms binne nie, maar ook met ’n splinternuwe, heerlike stoep-area buite waar kliënte in die buite­lug kan ontspan en lekker, gehalte- kos kan geniet, wat sinoniem is met Spur se handelsmerk.