Route 62 Bar & Grill – jou roete na vermaak en feestelikheid!

Pierre Rossouw (links) en Gerrit Matthee, mede-eienaars van die nuwe Route 62 Bar & Grill. Foto: Stefan Skapie Goosen

DIE opening van Route 62 Bar & Grill, voorheen bekend as Brian’s Grill, in Baron van Reedestraat op Oudtshoorn, was Vrydagaand (29 Julie) ’n feestelike affêre waar inwoners van die dorp nie net die eienaars van dié nuwe restaurant en kuierplek kon ontmoet nie, maar gesellig kon verkeer in ’n lekker kuieratmosfeer.

Vir mede-eienaars Pierre Rossouw en Gerrit Matthee is die oorname van die besigheid en die bedryf daarvan ’n familiegedoente, gekoppel aan ’n verhaal vol van die spreekwoordelike bloed en trane, geswoeg en gesweet om die onderneming lewe te gee.

Alles begin by Gerrit, wat skertsend erken dat hy agter die kroeg van die ou Brian’s Grill grootgeword het. Hy werk reeds jare-lank as bestuurder, kroegman en kelner by die instansie.

“Ek is gewoonlik die ou wat jou entertain agter die kroeg, of die een wat sorg dat jou kos vinnig en lekker warm by jou tafel uitkom, maar om my eie restaurant te kan bedryf was nog altyd een van my grootste drome,” vertel hy.

Gerrit het net goeie herinneringe van sy jare by Brian’s Grill en Karoopot – hy het immers sy vrou, Reneke, by Karoopot ontmoet.

Maar met die Covid-pandemie het dinge ’n baie skewe draai gevat, vertel Gerrit.
“Dit was die slegste tyd van my lewe. Die restaurantbedryf het gesukkel, almal om my het sonder werk gesit, en niemand het geweet wat aangaan nie.”

Dit is hier waar hy sy kans gesien het om sy droom te bewaarheid.

“Ek wou graag die kans vat om die restaurante te koop, maar ek het ook geweet dat dit nie kan aangaan soos dit altyd het nie,” sê Gerrit, en dit is waar sy oom, Pierre, die prentjie betree het.

“As ek ‘Boetie’ Pierre tien keer ’n dag gebel het om hom te probeer oortuig dat ons die restaurante moet oorneem, is dit min,” sê hy laggend.

“Ek het eers vir Gerrit gelag toe hy voorstel dat ons die restaurante in so ’n moeilike tyd moes oorneem,” bieg Pierre.

Na ’n lang ruk wat Gerrit “knaend” aangehou het, sê Pierre moes hy uiteindelik ingee toe die jong man met ’n “spreadsheet”, grafieke en moontlike scenario’s na vore kom.

“Toe begin my kop ook werk!”

Die oom-en-susterskind-paar het toe aan die werk gespring. Met R500 in elke restaurant se bankrekening, een maand se huur vooruit betaal en R10 000 se voorraad het hulle kop eerste ingespring.

Hulle het op drie pilare besluit waarop die besigheid gebou word: kliëntediens van hoë gehalte, billike pryse gefokus op die plaaslike mark, en kwaliteit-produkte.

Die besonderse span wat hulle ondersteun, is volgens Pierre ook van kardinale belang, met elk­een betrokke wat hul eie positiewe bydrae lewer.

Verder het hulle ook veranderinge aan die nuwe Route 62 aangebring wat inwoners self sal moet beleef. Vermaak gaan steeds ’n kern van hul besigheid vorm, met kunstenaars soos onder meer Francois van Coke, Jakkie Louw en Steve Hofmeyr wat deel uitmaak van die 2022 Route 62 “line-up”.

Gaan loer gerus in; die span staan gereed om jou ’n restaurant-ondervinding te bied wat jy nie vinnig sal vergeet nie.

Be the first to comment on "Route 62 Bar & Grill – jou roete na vermaak en feestelikheid!"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*