OUDTSHOORN se vyfster-boetiekhotel, Rosenhof, se restaurant is nou ook oop vir inwoners asook besoekers aan die dorp.
Dié pragtige Rosenhof van Nic en Ferda Barrow is geleë op ’n boomryke perseel in Baron van Reedestraat, naby die noordelike uitgang van die dorp na die Kango Grotte. Die Barrows het besluit om nou die hotel se restaurant, wat in die stylvolle hoofhuis van Rosenhof gesetel is, oop te stel vir die publiek en nie meer net vir hotelgaste nie.
Die hotel het ook pas ’n nuwe chef aangestel. Jean-Claude (JC) Wagener, ’n gebore Vrystater wat ook lank in die Oos-Kaap gewoon het, spog met ervaring op van die wêreld se luuksste passasierskepe. Hy het onder meer as chef op die wêreld se enigste sesster-passasierskip gewerk.
Hy vertel dat hy die voorreg gehad het om oor ’n tydperk van drie jaar meer as driekwart van die wêreld te sien en met produkte van dwarsoor die aardbol te werk.
JC het nadat die pandemie wêreldwyd uitgebreek het, teruggekeer Suid-Afrika toe en sê hy is opgewonde om hom nou op Oudtshoorn te vestig.
Die vriendelike JC sê daar is vir hom niks lekkerder nie as om moeite met ’n ete te doen en te sien dat mense die kos waardeer nie.
“Om ’n chef te word, was die beste keuse wat ek in my lewe kon maak. Om vir mense kos te maak wat hulle geniet, laat my ook goed voel.”
Hy is in 2016 aangewys as een van die toptien jong chefs in Afrika en die Midde Ooste wat aan die internasionale S Pellegrino Young Chef-kompetisie deelgeneem het.
• Rosenhof is oop vir ontbyt, middagete en aandete, asook vir oggend- en middagtee, met bespreking 24 uur voor die tyd by tel 044 272 2232.
Rosenhof-restaurant nou oop vir inwoners en besoekers
Jean-Claude (JC) Wagener, Rosenhof se nuwe chef, sê hy sien daarna uit om inwoners by die hotel se restaurant te ontvang. Die bekroonde wyne en Cap Classique van Nic en Ferda Barrow se wynplaas by Franschhoek, Ler Lude, is ook by die restaurant beskikbaar.
Foto: Schalk le Roux