Marilize Nortier: Nog geen hofdatum vasgestel

GEEN datum is nog vasgestel vir die aanvang van die hofsaak oor die dood van Marilize Nortier (18) meer as ’n jaar gelede nie.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, word nog op die dossier van die saak gewag voordat ’n dagvaarding uitgereik kan word vir die jong man wat die BMW bestuur het waarin Marilize op 22 September 2019 verdrink het.

Die motor waarin sy ’n passasier was, het tussen Oudtshoorn en die Kango Grotte van die pad geloop en in ’n watervoor beland.

Die bestuurder het die toneel verlaat en glo eers ure later weer teruggekeer.
Marilize was steeds in die voertuig vasgegordel toe dit ure nadat die ongeluk plaasgevind het, uit die water gesleep is.

Visser sê die dossier is nog nie terugontvang van die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) nie.

Die DOV het twee weke gelede beslis dat die bestuurder van die BMW vir strafbare manslag, alternatiewelik roekelose of nalatige be­stuur, en die versuim om hulp te verleen ná ’n bot­sing vervolg moet word. (Deur Liesel le Roux)