Lentereën en koue op pad!

MET sowat 11 tot 12 mm baie wel­kome reën wat die afgelope na­week op en buite Oudtshoorn geval het, is daar ’n verdere kans vir reën vandeesweek in die Klein Karoo.

Hoewel die voorspelling van verskeie weerdienste die afgelope week kort-kort aangepas is weens die onvoorspelbaarheid van hui­dige weersomstandighede, het die Noorweegse voorspeller YR teen die druktyd van Die Hoorn gister sowat 11 mm vir Vrydag en 3,5 mm vir Saterdag op Oudts­hoorn voorspel.

Ladismith kan volgens YR sowat 4 mm Vrydag en 8 mm Saterdag verwag.
Met die afgelope jare se droogte wat ondanks enkele reënbuie die laaste tyd nog die Klein Karoo in sy kloue het en talle damme wat nog baie leeg is, word daar wyd in die streek reikhalsend na nog reën oor die volgende weke uitgesien. Die Raubenheimerdam, Oudts­hoorn se drinkwaterdam, staan tans op 63,9%.

Daar word vir Donderdag en Vrydag ook koue weer vir die Wes-Kaap voorspel met baie lae temperature. Daar is selfs ’n moontlikheid van sneeu. Sneeu word egter hoofsaaklik vir hoërliggende gebiede in die Noord- en Oos-Kaap verwag. (Deur Liesel le Roux)