Kameras rol by Matjiesrivier, dié keer vir Klein Karoo Twee

Bo: Aksie tydens die verfilming. Onder: Cobus van der Berg. Heelonder: Van links is die akteurs Pierre Breytenbach, Anel Alexander, Tim Theron en Hykie Berg. Foto: Stefan Goosen

DIE doel van die rolprent Klein Karoo Twee wat tans op en om Oudtshoorn geskiet word – veral in die Matjiesrivier-omgewing – is nie net om gehore te vermaak nie, maar soos met die eerste fliek, is dit ook bewusmaking.

Dié Afrikaanse fliek speel weer af met die skilderagtige Klein Karoo as agtergond.

Volgens Cobus van den Berg, mede-vervaardiger van die fliek, het die eerste fliek wat in 2013 die plaaslike loket oorrompel het, die fokus geplaas op alkoholmisbruik en die kinders wat daaronder ly. “Met Klein Karoo Twee wil ons ’n ander sosiale dilemma aanspreek, naamlik vee-diefstal, en die kwessie behoorlik belig,” sê hy.

Die verfilming van dié romantiese komedie het vanjaar groot uitdagings gebied en het die wind van voor gekry met die uitbreek van die Covid-19-pandemie. Van den Berg sê die verfilming van die fliek sou reeds in Maart vanjaar plaasvind, maar met die inperking was dit onmoontlik.

Hy sê hulle het gehoop die inperking sou in Augustus verlig word, en sou produksie weer aan die gang kon kom, maar was daar steeds te veel beperkings en kon hulle eindelik eers weer op 7 September aan die gang kom. Die span is tans in die laaste week van verfilming.

“Ons werk vier weke lank, ses dae per week, twaalf ure per dag. Een week het ons soggens drieuur begin, die volgende week van eenuur die oggend, en tans skiet ons van ses tot ses elke dag. Dit is alles behalwe glamorous,” vertel hy.

Daar is volgens Van den Berg voortdurend Covid-protokol wat gevolg moet word, en die span moes selfs saam ’n week in kwarantyn deurbring. “Dit sou ’n ramp gewees het as Covid-19 onder die span uitgebreek het!”

Die feit dat ’n tweede fliek tans verfilm word, is ’n storie op sy eie. Volgens Van den Berg was daar nooit sprake van ’n tweede Klein Karoo-fliek nie, maar hy vertel dat Netflix die afgelope jare na Afrikaanse inhoud begin soek het, en gekyk het na wat populêr was. “Hulle wou die oorspronklike Klein Karoo-fliek koop, maar kykNet besit die regte daarvoor. Toe Netflix vra dat ons ’n tweede een skiet, het kykNet gespring en gesê hulle wil dit hê, en het hulle alle befondsing daarvoor verskaf,” sê hy.

Die storielyn van Klein Karoo Twee is ietwat van ’n misterie. Van den Berg wou nie te veel weggee nie. “Wat ek wel kan sê, is dat Tim Theron, hoofakteur, se karakter Frans deur ’n moeilike tyd gaan. Die storie handel daaroor of hy ooit in staat sal wees om weer in liefde te glo, en dit wys dat tyd alles kan genees,” vertel hy. Die hoofaktrise van die eerste fliek, DonnaLee Roberts, maak ook weer ’n verskyning in Klein Karoo Twee, maar nie op die manier wat aanhangers van die eerste fliek mag dink nie.

Maar hoekom juis albei rolprente in die Klein Karoo-streek kom skiet?

“Dit is so mooi hier, die mooiste plek op aarde. Uit die eerste fliek het ons agtergekom dat die Klein Karoo sy eie rol gehad het om te speel,” sê Van den Berg.

Uit die eerste fliek het die Klein Karoo Leessentrum ontstaan wat elke dag 35 tot 60 kinders toegang gee tot meer as 2000 boeke.

Tim Theron, wat die karakter Frans vertolk en ook as vervaardiger vir Klein Karoo Twee optree, het ook met Die Hoorn gesels tussen tonele wat geskiet is by Swartberg Country Manor.

Hy sê dat sy karakter, sonder om te veel weg te gee, op ’n emosionele plek begin in die fliek. “Frans is moontlik bietjie gebroke,” lag hy.

Theron sê hy lewer sy allerbeste met die fliek, maar voeg by dat die huidige onsekere Covid-19-tye ’n impak daarop kan hê.

“Daar is ’n klomp vrae wat bestaan oor die fliek, teaters en filmbedryf, en ons weet nie wat die antwoorde is nie, maar met Klein Karoo Twee wil ons iets groot doen. Mense moet lekker voel nadat hulle dit gekyk het. Dit moet hulle die geleentheid gee om aan die huidige moeilike tye te ontsnap terwyl hulle dit kyk. Hulle moet hulle kan verlustig in die karakters se wêrelde, waar die ergste ding bloot is om voor die kansel gelaat te word.”

Volgens Theron is dit ’n belewenis om weer terug te wees in die omgewing.

“Ek was baie opgewonde daaroor om terug te kon kom hierheen. Dit is een van my hartsplekke, hier by Matjiesrivier. Ek is baie dankbaar om hier te wees, en almal van die eerste fliek en nuwe karakters te kon terug bring. Dit is glad nie die droë Karoo waaraan almal dink nie.”

Klein Karoo Twee sal in April volgende jaar op skerms verskyn. (Deur Stefan Skapie Goosen)