Ladismith-man 15 jaar tronk toe vir moord

’N JONG man van Ladismith wat aan moord op sy vriendin skuldig bevind is, is in die streekhof op Oudtshoorn vir 15 jaar tronk toe gestuur.

Monray le Kay (22) het sy vriendin, Sheree Schoeman (24), die aand van 20 April 2018 tydens ’n stryery met ’n stomp voorwerp oor die kop geslaan waarna sy gesterf het.

Hy het onskuldig gepleit, maar sy weergawe is deur streeklanddros Syl­via Mandla verwerp

Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het die hof versoek om ’n vonnis op te lê wat ’n sterk boodskap sal uitstuur omdat Le Kay geen berou getoon het nie en aan ’n ernstige misdryf skuldig bevind is.

Die beskuldigde se pa, past Moos Lekay, het hom as ’n liefdevolle seun be­skryf en die hof vir ’n opgeskorte vonnis gevra. Volgens hom sou sy seun nooit met enigiemand baklei nie en is daar geen kwade gevoelens tussen die families nie.

Hy kon egter nie verduidelik waarom die oorledene, volgens getuienis voor die hof, bang was vir sy seun nie.

Landdros Mandla het bevind dat daar geen uitsonderlike omstandighede be­staan om van die voorgeskrewe vonnis van 15 jaar af te wyk nie en daarop gewys dat Schoeman se jong lewe kortgeknip is en sy ook twee kleuters agterlaat wat sonder ’n ma moet grootword.

Die landdros het Le Kay ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. (Deur Garnett Wicomb)