HOEKOM is dit belangrik om jou diere te ent teen siektes? Hoe werk dit, en is dit die geld werd wat daarop spandeer word? Hierdie is vrae wat elke boer homself afvra wanneer dit kom by die implementering van ’n entstofprogram. So kom ons begin by die begin: hoekom ent?
Enting is ’n risikobestuur-strategie, baie soos versekering wat nie ’n direkte opbrengs op belegging lewer nie, maar noodsaaklik is wanneer die moeilikheid voor jou deur staan. In hierdie geval is die “moeilikheid” dieresiektes wat bekamp kan word deur diere te ent met die korrekte entstof.
Enting is basies ’n meganisme wat die dier se immuunstelsel toerus om self infeksies teen te stry. Sodoende word diere minder siek en daar is ook minder vrektes aan die einde van die dag.
Sub-kliniese siektetoestande, met ander woorde siektes wat nie met die oog gesien kan word nie, kan ook verminder word en dit kan lei tot verhoogde produksie. Sekere entstowwe word spesifiek geposisioneer om te verseker dat ’n koei (of ooi) se biesmelk ryk aan teenliggaampies is, wat oorgedra word na hul pasgebore kalf (of lam) om beskerming te verleen in hierdie periode waar die immuunstelsel van die kalf (of lam) nog naïef is.
So; hoe werk hierdie proses van enting dan nou regtig?
Edward Jenner word gesien as die pionier van entstowwe, nadat hy ’n jong seun suksesvol met koeipokke geïnokuleer het en sodoende die seun immuun gemaak het teen mens-pokke.
Hierdie is basies waaroor enting gaan – die dier word blootgestel aan segmente van ’n virus of bakterie, wat verwerk word om dit minder gevaarlik as die veldstamme te maak, waarop die dier se immuunstelsel dan reageer om teenliggaampies te vorm. Wanneer die dier dan natuurlike blootstelling aan hierdie orga-nismes kry, is daar reeds ’n immuniteit wat vinnig in werking kan tree om daarteen te veg.
Dit is belangrik om te onderskei tussen enting opsigself en immunisering.
Enting in die ware sin van die woord dui op die aksie om entstof in ’n dier te spuit. Immunisering beteken dat die enting suksesvol was om die dier se immuunreaksie voldoende te stimuleer.
Om seker te maak dat enting tot immunisasie lei, is dit belangrik dat entstowwe reg hanteer word.
Dit sluit stappe in soos om die entstof koud, skoon en uit sonlig te hou. Sekere entstowwe moet skraagdosisse ontvang, wat krities is om optimale vlakke van immuniteit te stimuleer. Dit is belangrik om die dier ook in ag te neem. Diere wat geënt word moet gesond en in billike liggaamskondisie wees om die kapasiteit te hê om na wense te reageer op enting.
Die laaste vraag wat in die inleiding gevra was, is of dit betaal om te ent? Wanneer ’n siekte uitbreek en diere vrek, is dit maklik om die som te maak.
Maar wat as diere nie doodgaan nie, maar net siekword en suksesvol behandel word? Behandeling is deur die bank baie duurder as enting en as ’n reël kan baie diere geënt word vir een dier wat behandel word.
Jy gaan nie jou splinternuwe bakkie ry sonder versekering nie, moet ook nie jou kudde bestuur sonder ’n voldoende entstofprogram nie! (Deur Schabort Froneman – Zoetis Tegniese Bestuurder)
