VAN die heel belangrikste faktore wat inkomste in ’n Angora-kudde bepaal, is hoë vrugbaarheid / reproduksie en lae boklam-vrektes.
Hoe hoër die vrugbaarheid en hoe laer die mortaliteite, hoe höer is die persentasie duurder jong bokhaar in die skeersel wat jaarliks bemark kan word.
Gedurende die laaste ses weke van drag-tigheid vind ’n vinnige toename in fetus-groei plaas wat meebring dat die voedingsbehoefte dubbel dié van ’n droë ooi is, terwyl die voedingsbehoefte van ’n tweeling-ooi gedurende vroeë laktasie drie keer dié van die droë ooi is.
Voedingstres sal direk bydra tot aborsies gedurende laat dragtigheid; veral ’n energie-tekort. In ’n proef, waar dragtige ooie vir die laaste twee-derdes van dragtigheid op ’n lae-energie-voedingsvlak was, is 52% aborsies aangeteken teenoor 7% in die kontrolegroep.
Gevolge van energie-tekort
’n Skielike energie-tekort, as gevolg van een of ander strestoestand, het die volgende in die bok tot gevolg:
• Vinnige daling in bloedglukosekonsentrasie
• Skielike styging in sirkulerende estrogene
• Verlaging in sirkulerende progesteroon
• Aborsie van die normale fetus
Belang van ’n produksielek
’n Produksielek kan onder die volgende omstandighede ’n belangrike rol in die voor-koming van aborsies gedurende laat drag-tigheid speel:
• Gee ’n produksielek tydens ongunstige toestande, bv in droogte-toestande en koue;
• Gee pasgeskeerde bokke in die winter ook ’n produksielek;
• ’n Verandering in die dieët kan ’n tydelike energie-proteïentekort tot gevolg hê – gee in hierdie oorganstydperk ’n produksielek;
• Dragtige ooie op groen aangeplante weiding met ’n baie hoë voginhoud kan nie genoeg voedingstowwe inneem nie en sal ’n energie-proteïentekort ondervind;
• ’n Kombinasie van ’n melasse- en graanbevattende produksielek speel ’n belangrike rol om bloedglukosevlakke vinnig te laat styg;
• Dit is veral jong ooie wat vir die eerste keer dragtig is wat aborteer as gevolg van ’n energietekort, omdat hul nog self groei;
• Strawwe inwendige en uitwendige para-sietbesmetting moet voorkom word; en
• Normale hantering van dragtige ooie het geen of baie min effek op aborsies.
Oorsake van lamvrektes
In ’n opname is bevind dat 39,1% van die lamvrektes tussen geboorte en speen op vier maande-ouderdom voorkom as gevolg van ongediertes soos parasiete.
Die mees algemene oorsake was klein- en swakgebore lammers wat moet gehelp word om te suip (18,6%); ooie met min of geen melk (6,8%); en ooie wat hul lammers weggooi (6,8%).
Verdere oorsake van lamvrektes, tesame met ooie wat uierprobleme (3,5%) het, het 35,7% van voorspeense vrektes veroorsaak. Die probleem is grotendeels een van bestuur, aangesien 67,5% van die lamvrektes verband hou met bestuur.
In sommige gevalle kan lamvrektes aansienlik verminder deur klein bestuursaanpas-sings, maar soms behels dit die hersiening van die hele bestuursprogram. Ondervoeding (veral energie en proteïen) gedurende laatdragtigheid lei tot onvoldoende melkvloei en klein boklammertjies wat nie behoorlik kan suip nie.
Verminder lamverliese
Belangrike maatreëls om lamverliese te verminder, is die volgende:
• Voldoende voeding vir laatdragtige bok-ooie (laaste twee maande) deur spaarkampe en/of byvoeding van ’n produksielek;
• Ooie moet in kampe lam wat voldoende skuiling bied; en
• Voortdurende toesig van swaar-dragtige en lammerooie is ook van groot direkte belang om verliese te verminder, omdat tydige stappe geneem kan word om lamvrektes te verhoed.
MOLATEK-produkte
Weiding is oor die algemeen proteïen-arm, en veral aan die swawel-bevattende amino-sure.
Hierdie aminosure moet dus in die vorm van deurvloeiproteïen aangevul word. Hier kan Molatek Wolmeester-konsentraat (V 19782), Molatek Lam- en Ooilek (V 25056) en Elite Block (V 26008) ’n groot voordeel inhou.
Wat belangrik is om te onthou is dat dit nie net die hoeveelheid proteїen is wat belangrik is nie, maar die hoeveelheid en kwaliteit (essensiële aminosure teenwoordig) deurvloei-proteїen in die aanvulling.
Verskaf Wolmeester-konsentraat produksielek (500 kg Wolmeester + 400 kg graan + 100 kg sout) teen 300 – 500 g/ooi/dag, Lam- en Ooilek en Elite Block ook teen 300 – 500 g/ooi/dag, afhangende van stadium van dragtigheid, aantal fetusse, laktasie en ooi gewig. As onderhoudslek meng 850 kg Wolmeester-konsentraat + 150 kg sout, en verskaf teen 200 – 250 g/ooi/dag.
Die hou van volledige en akkurate rekords van die simptome en oorsake van lamvrektes kan nuttige inligting verskaf om aanpassings in die lamstelsel asook bestuur- en voedings-praktyke te maak om lamvrektes in die toekoms te beperk.
’n Hoër winsgewendheid uit u Angora-
vertakking is sodoende moontlik.
Kontak hierdie kundige
Molatek-personeel in u gebied:
• Hennie Slabbert (082 336 6442)
– Klein Karoo en Oos Kaap
• Charl Vorster (084 812 7378)
– Sentrale Karoo
(Deur Dr Vlok Ferreira (Nasionale Tegniese Bestuurder – Herkouers, MOLATEK)
