Twee Gautengers probeer glo hier geld uit ander se bankrekenings onttrek

DIE saak teen ’n vrou en ’n man van Gauteng wat tereg staan op drie klagtes van bedrog, is verlede Maandag in die Oudts­hoorn Streekhof tot 5 September uitgestel.

Nomvula Ziqubu (60) van Orlando Wes en Webster Ndlovu (62) van Johannesburg word daarvan aangekla dat hulle in Oktober 2019 by drie geleenthede op Beaufort-Wes en Oudts­- ­hoorn bedrae van onderskeidelik R80 000, R18 000 en R85 000 uit die Absa-bankrekening van Francina Moeketsi en/of Ashwell Johnson wou onttrek.

Ziqubu het glo voor­gegee dat sy Moeketsi is.

Haar regsverteen­woordiger het die hof Maandag meegedeel dat hy van voorneme is om ’n aansoek vir haar vrylating te bring om­dat sy onnodig lank aangehou word en dit nie haar toedoen is nie.

Streeklanddros Sylvia Mandla het Ndlovu se borgtog van R5 000 en borgvoorwaardes tot hul volgende hofverskyning verleng. (Deur Garnett Wicomb)