Verhoordatum vir Johannes Saayman nou 8 September

Die saak teen ’n boer van Buffelsjachtsfontein in die Calitzdorp-distrik wat tereg staan op’n klagte van poging tot moord op ’n vrou wat aan hom be­kend is, is verlede Donderdag in die Oudtshoorn Streekhof vir pleit en verhoor tot 8 September uitgestel.

Die 55-jarige Johannes Mattheus Saayman word daarvan aangekla dat hy die vrou die aand van 26 Junie 2021 op die Calitzdorp sementpad gewurg, met die vuis geslaan en ook getrap het.

Hy erken in ’n pleitverduideliking dat hy die vrou ken en dat sy by ’n vorige geleentheid ’n interdik teen hom verkry het.

Streeklanddros Ntsoki Moni het die saak vir pleit en verhoor tot 8 September uitgestel en Saayman se borgtog van R5 000 en borgvoorwaardes tot dan verleng.

Van die voorwaardes is dat hy nie kontak mag maak met die vrou nie; nie by verdere misdaad betrokke raak nie, en moet wegbly van haar huidige woonadres op Oudtshoorn. (Deur Garnett Wicomb)