Vir meer as drie dekades bied die Oudtshoorn Rotary Aftree-oord ’n rustige toevlugsoord waar inwoners die gemak van ’n ware tuiste en die gemoedsrus van gehalteversorging ervaar.
“Ons streef daarna om vir inwoners nie net verblyf te bied nie, maar ’n ware tuiste waar hulle veilig, gelukkig en versorg kan voel,” sê Marianne van Greunen, bestuurder van die oord. Van Greunen is reeds 20 jaar by die oord betrokke.
Die oord het sy ontstaan in 1993 gehad as ’n projek van die Rotariërklub van Oudtshoorn. Vandag bly Rotary-lede steeds aktief betrokke by die bestuur en ontwikkeling van die oord.
Met 121 wooneenhede en sowat 200 inwoners is die oord die tuiste van ’n hegte gemeenskap waar vriendskappe gevorm word en inwoners deel van ’n aktiewe gemeenskapslewe bly.

Die oord word bestuur deur ’n bestuursraad wat uit Rotariërs en inwoners bestaan. Die bestuursraad bestaan uit André Retief (voorsitter), Mari-Lu Roller (ondervoorsitter), Alewyn Hanekom, Emsie du Plessis, Maryna Burden, Willem van Niekerk, Belinda du Plessis, Hanlie Rix en L. Carlisle.
’n Belangrike deel van die lewe by die oord is die sterk gemeenskapsgees wat deur die Lede-vereniging bevorder word.
Onder leiding van Willem van Niekerk word verskeie sosiale geleenthede deur die jaar gereël, waaronder bingo-middae, bring-en-braaie, sop-en-sjerrie-aande en musiekgeleenthede. Jaarlikse hoogtepunte op die kalender sluit die gewilde Stigtersdagete en die jaareindfunksie in.

Western Province Caterers (WPC) behartig reeds die afgelope dekade die spyseniering vir inwoners. Die WPC-bestuurspan bestaan uit Esta Visser (afdelingsdirekteur), Daniel Roux (bedryfsbestuurder) en Carlé Marais (kombuisbestuurder).
Veronica (Soekie) Stefaas het onlangs ’n sertifikaat ontvang ter erkenning van haar 10 jaar diens by WPC. “WPC lewer ’n belangrike bydrae tot die gehalte van diens wat ons kan bied,” sê Van Greunen.
Vir meer inligting oor die Oudtshoorn Rotary Aftree-oord, besoek www.oudtshoornrotaryretirementvillage.co.za of kontak Marianne van Greunen by odnaftreeoordbestuurder@gmail.com of 044 272 4620.


