Klein Karoo paaie steeds onder druk

Herstelwerk aan die R382 Kango Grotte-pad. Foto verskaf

Meer as 1 970 ton rots- en puinmateriaal is reeds van die Kango Grotte-pad (R328) verwyder terwyl opruimingswerk na die onlangse rotsstorting voortduur.

Dit blyk uit die jongste herstelopdatering wat Dinsdagmiddag, 23 Junie, deur die Wes-Kaapse Minister van Infrastruktuur, Tertuis Simmers, en die departement se hoof, adv. Chantal Smith, uitgereik is.

Volgens die opdatering vorder die rotsverwyderingsoperasie goed, maar sal dit steeds tyd neem voordat die pad ten volle oopgestel kan word. Die R328 tussen Oudtshoorn en die Kango Grotte bly intussen gesluit weens die rotsstorting en die voortgesette opruimingswerk. Terwyl opruimingswerk op die Kango Grotte-pad voortduur, staar die provinsie ook groot herstelkoste elders in die streek in die gesig.

Die Wes-Kaapse regering het bevestig dat die skade aan Meiringspoort alleen na raming sowat R421 miljoen sal kos om te herstel, met ’n heropbouprogram wat na verwagting ongeveer 26 maande sal duur.

Motoriste wat tussen Oudtshoorn en Prins Albert reis, kan steeds van die Swartbergpas gebruik maak. Die departement waarsku egter dat streng beperkings op die pas van toepassing is om die padinfrastruktuur te beskerm.

Slegs ligte motorvoertuie word toegelaat, geen sleepwaens mag gebruik word nie, en voertuie mag nie langer as sewe meter wees nie. Op Dinsdag 23 Junie het ’n vragmotor op die pas vasgesit, wat verkeer tydelik ontwrig het. Die voertuig is egter vinnig verwyder en die roete is kort daarna weer vir verkeer oopgestel.

Owerhede doen ’n beroep op bestuurders om versigtig te ry, padtekens en verkeersreëls te gehoorsaam en die beperkings op voertuiglengte en sleepwaens in ag te neem.

Weens die onlangse storms, herstelwerk en veranderende padtoestande word motoriste versoek om ekstra versigtig te wees. Die departement het verder beklemtoon dat die Swartbergpas nie gebruik kan word om Oudtshoorn via die Kango Grotte te bereik nie, aangesien die R328 steeds gesluit is.

Motoriste wat vanaf die Prins Albert-kant na Oudtshoorn wil reis, word aangeraai om die DR363 (Matjiesrivier-grondpad) as alternatiewe roete te gebruik.

Geen aanduiding is nog gegee van wanneer die R328 weer vir verkeer oopgestel sal word nie. (MALISSA SPIES)

Johann Coetzer en vriende het Saterdag sowat 19 km in Meiringspoort gaan stap. Foto: Johann Coetzer