Skole sluit vandag vir die Julie-wintervakansie en heropen weer Dinsdag, 21 Julie vir die derde kwartaal. Dit gee gesinne sowat drie en ’n half weke om asem te skep voordat die skooljaar hervat.
Vir baie ouers kan die lang vakansie ’n uitdaging wees, veral gedurende die koue winterdae wanneer kinders maklik ure voor ’n skerm deurbring. Die geheim is om balans tussen rus, pret, leer en ekstra wiskunde klasse te vind. ’n Paar eenvoudige aktiwiteite kan help om kinders besig én aktief te hou.
Op sonnige winterdae gaan stap, of ’n piekniek in die natuur. Daar is talle geleenthede om die buitelug te geniet sonder dat dit duur hoef te wees. Op reënerige dae kan bordspeletjies, legkaarte bou, of saam bak en brou groot pret wees. Selfs ’n gesinsfliekaand met springmielies kan ’n vir hope pret sorg.
Die vakansie is ook ’n ideale tyd om lees aan te moedig. ’n Gereelde besoek aan die biblioteek of ’n boek uit die huis se boekrak kan kinders se verbeelding prikkel en help om hul taalvaardighede skerp te hou. Ouers kan kinders ook betrek by eenvoudige take in en om die huis, soos tuinwerk, koekies bak, die motor was of ’n wintergroentetuin begin. Dit leer verantwoordelikheid én bou selfvertroue.
Vir tieners kan die vakansie ’n goeie geleentheid wees om nuwe vaardighede aan te leer, soos fotografie, programmering, kook, musiek of selfs om vir hul leerlinglisensie voor te berei.
Kenners beveel aan dat kinders steeds ’n basiese daaglikse roetine volg, met genoeg slaap, gesonde etes en tyd vir fisieke aktiwiteite. Dit maak die terugkeer skool toe heelwat makliker.
Die belangrikste is egter om gehaltetyd saam deur te bring. Kinders onthou selde duur uitstappies, maar ont-hou dikwels die eenvoudige oomblikke saam met hul gesin. Met ’n bietjie beplanning kan die Julie-vakansie ’n tyd van rus, warmte en spesiale herinneringe wees vir die hele gesin. Daar is ook verskeie akkommodasie plekke met spesiale winter aanbiedinge.
Hou die wintervakansie pret én produktief
Foto: John Sharper (Die Hoorn-argief)