CREATIVE BLOCK DESIGN STUDIO, ’n grafiese ontwerpateljee, kan nou spog met ’n splinternuwe perseel in St Johnsstraat, Oudtshoorn nadat die eienaarspaartjie, Jacques Nell en Nicole Frost, die besigheid reeds meer as twee jaar lank van die huis af bestuur het.
Dié twee opgeleide grafiese ontwerpers, wat boonop op trou staan, het hul besigheid in Desember 2020 begin in die tyd wat die Covid-19-pandemie die land getref het.
“Ons het daardie tyd Oudtshoorn toe gekom, want Nicole het so ’n paar werksgeleenthede hier gehad, maar toe besluit ons ‘kom ons doen dit net’,” vertel Jacques. Albei het van Bloemfontein hierheen verhuis. Jacques self is daar gebore en getoë, maar Nicole is ’n gebore Oudtshoorniet.
Volgens Nicole het hulle sommer dadelik die besigheid van die huis af begin toe hulle in die dorp aankom. “Ons het beide grafiese ontwerp in Bloemfontein geswot, maar Jacques is al ’n hele klompie jare lank in die bedryf. Dit is juis hoe ons ontmoet het,” sê Nicole. Hulle het hul studie aan die Central University of Technology voltooi, met Nicole wat ook onderwys na haar grafiese ontwerpstudie studeer het.
Toe hulle die geleentheid kry om hul eie besigheid te begin, het hulle dit ten volle aangegryp. “Om jou eie baas te wees is ook nou nie die maklikste ding in die wêreld nie,” skerts Jacques. “Nicole het my basies van Bloem af ontvoer, maar dis die beste besluit wat ek ooit geneem het. Ek is nie ’n dag spyt daaroor nie,” voeg hy laggend by.
Tussen die besigheid aan die gang kry en hou, en trouplanne, sê albei dat daar baie spanning betrokke is, maar om nou ’n perseel van hul eie te hê waar die onderneming kan groei, is baie beter as om van die huis af te werk. “Toe ons klein begin het, was dit eintlik maklik van die huis af, maar hoe meer werk ons ingekry het, hoe meer ingewikkeld het dit geraak. Elke masjien het in ’n ander vertrek gestaan, en soms moes ons selfs buite gaan werk. Nou is alles op een plek wat die werksvloei soveel makliker maak, en produksie verhoog en verbeter,” sê Jacques.
Creative Block bied die volgende dienste: borduurwerk; grootformaat-drukwerk; hul beskik oor ’n lasersnymasjien; hul maak naamborde van alle soorte vir byvoorbeeld restaurante, winkels en plakkers of “decals” vir voertuie en nog baie meer.
Op die oomblik werk die paartjie alleen, met ’n bietjie hulp wat hulle dan en wan inkry waar nodig, maar volgens Nicole is die idee om uit te brei. “Ons sal baie graag amper soos ’n franchise wil wees, en uitbrei George toe. Ons wil defnitief groot gaan! Maar ons is ook nie net hier vir besighede en groot kliënte nie, maar vir individue ook,” sê Nicole. “Ons probeer almal help,” voeg Jacques by.
“Ek kan nie help om van my werk te hou nie. Die adrenalien pomp soms en die rush wat ek daarvan kry is ongelooflik!” sê Jacques opgewonde.
Creative Block wil graag almal help, met die beste diens teen die beste prys. Gaan kuier gerus vir hulle in St Johnsstraat, skuins oorkant die Turnberry Hotel, en kyk hoe hulle jou as individu of ’n besigheid kan bystaan.
‘New kids on the Block’
Jacques Nell (links) en Nicole Frost van Creative Block Design Studio in hul nuwe kantore.