Die nuwe album van bekende TV-persoonlikheid en sanger, Neil Sandilands getiteld Land & Sand, het tot stand gekom deur die normale stand van sake te evalueer en dan te optimaliseer. “Dit was komplekse en onseker tye,” vertel Sandilands. Die alombekende Bellville Studios het Kaapstad toe geskuif, en Land & Sand was die laaste album wat in die Studio gemaak is.
Tyd het ook ’n groot rol in die maak van die album gespeel en Sandilands het die album saam met sy jarelange vriend, Theo Crous, wat ook ’n vervaardiger is gemaak. Die album het binne drie weke gestalte gekry.
’n Toer vir die nuwe album is op die been gebring en het op 27 Junie 2024 afgeskop en eindig op 4 Augustus 2024. Die toer sluit lewendige uitvoe-rings in van Sandilands se werke, en hy maak seker dat elke uitvoering nuut en vars is. Daarom was dit ’n prioriteit om nuwe liedjies vinnig by die ateljee te kry, sodat dit betyds is vir die nuwe toer.
“Natuurlik gaan ons van die meer bekende, ouer werke ook doen, maar dit verleen ’n “kraakvars element” aan die toer. Die liedjies op dié album was letterlik al wat ek in my agtersak gehad het, wat ek min of meer in volledigheid kon aanbied, tussen die vervaardiging van reekse en films en allerhande ander bedrywighede,” sê hy.
Sandilands verduidelik dat die album ’n blik op sy onmiddellike en resente bestaan, terug in die Overstrand in Onrus geleë in die Wes-Kaap reflekteer. Hy voeg by dat hy opgewonde is oor hoe die liedjies klink, juis omdat daar nie tyd was om te diep te dink of tierlantyntjies by te voeg nie.
“Hier’s is dit, dis wat ons kon regkry in die drukgang, hoop julle hou daarvan”. Dit vereis nie werklik meer verduideliking nie,”
Die album se omslag is ’n ou Polaroid foto wat hy onlangs herontdek het, waar hy vir die eerste keer voor ’n lewendige gehoor op die ouderdom van 6, in 1982, by Laerskool Randfontein opgetree het, met ’n solo vertoning van “Hak hom blokkies”, deur David Kramer.
“Daar’s ’n verband tussen die omslag en die snit “Gooi Kole”. Die woord “verbetenheid” kom in my kop op. Ek verwag dat die snit soos ’n virus sal versprei,” verduidelik Sandilands.
Sy persoonlike gunstelinge op die album is “Hephzibah” en “Lei my na die Water”, maar vir hom voel dit soos om tussen sy kinders te kies, hy is net so lief vir die een soos vir die ander.
“Laastens wou ek graag die werke só skep dat ek “Die Band” Schalk Joubert, Frank Freeman & Ronan Skillen, kon betrek. Siende almal hul eie professionele trajekte het, en Ronan migreer het na Ierland, was hierdie klein venster van moontlikheid al wat ons tot ons beskikking gehad het. Dit was ’n kwessie van “doen dit nou of glad nie,” vertel hy.
Joubert, Freeman en Skillen het almal op die album gespeel en gaan sorg vir die lewendige uitvoering daarvan. Ander musikante op die album is Melissa van der Spuy (Klawers), Inge Beckmann (backing vox), Theo Crous (addisionele kitaar) en David Jenkins (Zulu konsertina).
“Ek is oorstelp met die uitkoms. Miles Davis het iets gesê soos “There is no inspiration such as a deadline”. Die proses het my geleer dat daar veel waarde daaraan is om meer intuïtief en instinktief te werk, as serebraal. Met die album, dink ek, kom ek nader aan primitiewe impulse.” sluit Sandilands af.
Die Land & Sand Album is nou beskikbaar op alle digitale platforms, luister gerus na hierdie nuwe unieke klanke van een van Suid-Afrika se toptalente: https://vyd.co/LandEnSand
Volg gerus die toerskedule vir Land & Sand, en ook om kaartjies te koop: https://linktr.ee/neilsandilandsband, https://linktr.ee/neilsandilands, www.neilsandilands.com.
Sandilands en “Die Band” is op 31 Julie 2024 by Route 62 te sien. Moenie dit mis nie, koop gerus jou kaartjies nou al om teleurstelling te voorkom.