Karoo Lusern Slaghuis, sowat 5 km buite Oudtshoorn het vanjaar twee spogtoekennings los geslaan met hul deelname aan “The Cleavers Best Butcher Awards”.
Karoo Lusern Slaghuis is in 2021 deur die eienaar, Cornel Landman, van Karoo Lusern gestig.
Hierdie plaasslaghuis se doel is om aan die eindverbruiker topkwaliteitprodukte teen billike pryse te lewer, deur die middelman uit te sny. Hier fokus die bestuur nie net op goeie gehalte vleis en verpakking nie, maar uitstekende kliëntediens en goeie slaghuis-higiëne wat van kardinale belang is. “Ons streef daarna om elke kliënt wat by die deur instap op die hande te dra” sê Landman.
Die wenners van die 19de Cleavers Toekennings is tydens ’n seremonie aangekondig. Die geleent-heid is deur die Red Meat Services Industry (RMIS) aangebied, en die seremonie het vanjaar by Loftus Versfeld, in Pretoria, op 6 Julie 2024 plaasgevind. Die Cleavers Toekennings erken die uitnemende prestasie en toewyding van Suid-Afrika se beste slaghuise.
Die keuringsproses het begin deur openbare nominasies van 681 slaghuise landswyd, gevolg deur streng oudits van die top 100 genomineerde slaghuise regoor Suid-Afrika. 24 Gekose slaghuise is uitgenooi na die toekenningseremonie.
Wenners is in die volgende kategorieë aangewys:
- Slaghuise met 3 of minder betaalpunte.
- Slaghuise met meer as 3 betaalpunte: Erkenning aan besondere slaghuise met breër bedrywighede.
- “Meat Markets”: Vier uitnemendheid in supermarkte op provinsiale en nasionale vlak.
- “Main Markets”: Beklemtoon die uitblinker tussen slaghuise wat landelike gebiede en nedersettings bedien, op provinsiale en nasionale vlak.
Hierdie jaar is daar slegs een provinsiale wenner per kategorie aangewys, waaruit die nasionale wenners bepaal is. Hierdie aanslag was daarop gemik om die beste streekstalent op ’n nasionale verhoog ten toon te stel.
Karoo Lusern Slaghuis het twee uitnemende toekennings ontvang: Die eerste een as 2023/2024 Provinsiale wenner in die Wes-Kaap in die kategorie vir slaghuise met meer as 3 betaalpunte sowel as die 2023/2024 Nasionale Wenner in dieselfde kategorie.
“Dit is vir ons ’n groot voorreg en prestasie om as die Beste Slaghuis in Suid-Afrika aangewys te word in ons kategorie. Hierdie toekenning laat my bors swel van trots en ons is geëerd om die erkenning vir ons span se toegewydheid en harde werk op nasionale vlak te ontvang. Daarmee saam wil ek ook elke getroue kliënt bedank vir hul eindelose ondersteuning. Sonder lojale kliënte sou ons nie hierdie reusemylpaal kon bereik nie. Ons streef steeds voortaan om te bou op ons topkwaliteitprodukte, uitstekende kliëntediens en goeie slaghuis- higiëne,” sê Landman
Die Cleavers Awards bied aan slaghuise ’n platform om hul toewyding aan streng standaarde volgens SAMIC (South African Meat Industry Company) en RMIS ten toon te stel, wat bydra tot voedselsekuriteit, kliëntetevredenheid en gehalte vleisprodukte. Hierdie inisiatief is geloods deur die South African Red Meat Industry Forum in samewerking met die South African Feedlot Association, wat streef daarna om landswyd die standaarde in slaghuise te verhoog. Klem word gelê op slaghuis-higiëne, verskaffing van kwaliteit-verse-kerde vleisprodukte, waarde vir geld en kliënte-diens.
“Dankie aan ’n sterk span wat saam met my hierdie besigheid bedryf, en spesiale dank aan my vrou, Hanri, vir haar ondersteuning, raad en die kardinale rol wat sy in die besigheid speel. Ons bou voort op hierdie toekenning en streef tot uitnemendheid op elke vlak, selfs tydens die uitbreiding van ons nuwe ontbeningsaanleg,” sluit Landman af.