Die Boeremusiek Op Wiele Orkes

BOEREMUSIEK OP WIELE, een van die orkeste wat vanjaar by die Grootvoël Boeremusiekfees gaan optree, bestaan uit ’n groep pensioentrekkers wat nie noodwendig altyd almal saam speel of saam toer nie.

Die groep is op 7 Julie 2017 gestig en die lede het oor die jare hegte vriende geword. Hulle het saam ’n musiek-DVD met die titel  Kaapse draai opgeneem tydens een van hul gereelde toere.
Met die Grootvoël Boeremusiekfees vanjaar sal die orkes se twee konsertinaspelers en ’n sanger voorvat.  Die instrumente wat deur die orkeslede bespeel word, is ’n konsertina, ’n baskitaar n drie ritmekitare. 

Die orkes is veelsydig en ruil gereeld instrumente tydens optredes sodat die musiek nie vervelig word nie.

Die orkes se musikante kom van verskeie dorpe en toer die land vol met woonwaens.

JR Olivier sing gereeld by Boeremusiek op Wiele se optredes en is bekend vir sy vertolkings van Randall Wicomb se liedjies.

Die orkeslede wat by vanjaar se Groot gaan optree bestaan uit:
• Hannes Schoeman – konsertina en ritmekitaar;

• Corrie Bothma – konsertina en ritmekitaar;

• Willem Steyn – baskitaar;

• JR Olivier – ritmekitaar, banjo en sang; en

• Corrie de Wet – ritmekitaar.

Die groep kan gereeld gesien word op DSTV kanaal 146 op die program Varstrap wat op Woensdae en Saterdae gebeeldsend word.

Dit is die eerste keer dat die Boeremusiek op Wiele-orkes by die Grootvoël Boeremusiekfees sal optree. Hannes het egter al by vorige geleenthede daar opgetree.

Volgens Hannes sien hulle uit na ’n heerlike fees saam met goeie vriende.

Die fees, wat op 23 en 24 September in die Hoërskool Oudtshoorn se skoolsaal plaasvind word geborg deur TFASA en Radio Namakwaland 93.4fm.

Boeremusiekliefhebbers kan reeds hul kaartjies vir die 2022 Grootvoël Boeremusiekfees bespreek. Naweekkaartjies kos R140 en dagkaartjies R80.

Kaartjies kan gekry word by Brian Nieuwoudt by 082 322 7526, of Christo Wiese by 083 453 2806.

Enige navrae kan ook aan hulle gerig word. Besoek gerus ook die fees se Facebook-blad vir meer inligting.