’N 32-JARIGE enkelmoeder oorspronlik van die plaas Hoeko buite Ladismith is op pad na die Verenigde Koninkryk (VK) en Denemarke nadat sy ’n studiebeurs van die Erasmus Mundus Program in Gevorderde Ontwikkeling in Maatskaplike Werk losgeslaan het.
Dié vrou is Melicia Sny, tans aan die stuur van sake by Ladismith Kindersorg.
Hierdie beurs dek al haar koste om na die Verenigde Koninkryk te reis en te studeer.
Sny, wat middel September vertrek, sê die eerste semester begin in September 2022 en strek tot Januarie 2023.
Daarna, in Februarie, verskuif haar studie na die Aalborg Universiteit in Denemarke vir die tweede semester.
Sy wys met trots aan die koerant haar brief wat sy van die Aalborg Universiteit ontvang het en vertel hoe die woorde van ’n oud-onderwyser haar geïnspireer het.
“Meneer Keith Meyer het altyd aan ons gesê: Jy is nie die produk van dit wat met jou gebeur het nie; jy is die produk van wat jy gemaak het met dit wat met jou gebeur het.
“Ek het besluit om negatiewe omstandigdhede in positiewe omstandighede te omskep,” sê sy met groot selfvertroue.
“Ek kan nie nalaat om te noem dat my ma nooit ophou glo het in my nie. Sy het letterlik haar laaste vir my gegee net om te kom tot waar ek vandag is.
“My rolmodelle hier is twee van my kollegas, Ramona Nortje en Bridgette Buys.”
’n Kollega dra ’n welkome koffie die kantoor binne, en dit is duidelik dat daar wedersydse respek in dié kantoor heers.
Wanneer Sny oor haar doelwitte gepols word, skroom sy nie om die verbetering van haar moeder se omstandighede as haar eerste prioriteit te noem nie. ’n Doktorsgraad word ook nie uitgesluit nie.
Sy herhinner ook aan die invloed van Marquin Smith, toesighoudende maatskaplike werker oor wie Die Hoorn al berig het, op haar lewe.
“Marquin werk verskriklik hard. Wanneer ons kantore saam ’n funksie het, sal Marquin altyd hou by die tyd wat hy homself toelaat om te ontspan, want hy is nog steeds besig met studie.”
Hou Melicia Sny dop. Sy is besig om net soos die prokureur Jerald Andrews of die suksesvolle plaasbestuurder Sewes van der Horst, en nog ander suksesvolles van Hoeko, besig om daardie streek se naam hoog te hou. (Deur Deon Meyer)
Melicia met beurs op pad na VK en Denemarke
Melicia Sny, die kantoorhoof van Ladismith Kindersorg en oorspronklik afkomstig van Hoeko, vertrek eersdaags na die buiteland om in die Verenigde Koninkryk en ook in Denemarke te gaan studeer.
Foto verskaf