KANNALAND is tot in sy fondamente geskud deur die nuus dat nog twee bekende oud-skoolhoofde van die streek skielik oorlede is.
Die dood van Peter (Meester Pietie) Kannemeyer (64) van Ladismith asook Hendrik (Hekkie) Murphy van Calitzdorp op 23 Augustus volg kort op die dood van Pieter Herandien, afgetrede skoolhoof van Laerskool Towerkop in Ladismith, op 16 Augustus.
Op Ladismith het die nuus dat Meester Pietie oorlede is inwoners in ongeloof gelaat. Hulle was nog besig om die dood van Herandien te verwerk toe die nuus oor die alombeminde Kannemeyer bekend geword het.
Kannemeyer was die eerste rekeningkunde-opvoeder by die Ladismith Sekondêre Skool, waarna hy die prinsipaalspos by die Laerskool Buffelsvlei buite die dorp aanvaar het
Kannemeyer was volgens sy vrou, Sannie, alleen met hul kleinseun, Hugan, tuis terwyl sy by ’n samekoms van senior burgers was.
“Hugan vertel dat sy oupa in die studeerkamer besig was om musiek te komponeer toe hy skielik begin bewe het en van die stoel geval het.”
Sannie het die nooddienste geskakel, terwyl ’n vriendin, Lynette Cupido, haar ondersteun het terwyl hulle op die ambulans gewag het. Paramedici het Kannemeyer egter op die toneel dood verklaar.
Hy was in die Wes-Kaap veral bekend vir sy betrokkenheid by Kerskore, en het ook die gesangeboek van die Lutherse Kerk getoonset.
Sy begrafnis vind Saterdag vanuit die Evangelies Lutherse Kerk plaas.
’n Voormalige burgemeester van Kannaland, Jeffrey Donson, het Kannemeyer op Facebook as ’n legende en reus van die gemeenskap op verskeie gebiede bestempel. “Rugbyspeler, rekeningkunde-onderwyser, skoolhoof, op Kannaland Munisipaliteit se ouditkomitee, kerkraadslid en vele meer. Mag God sy familie en totale gemeenskap geestelik versterk. Kannaland is lam gelê deur sy dood,” skryf hy onder meer.
In Calitzdorp was die nuus van die dood van meester Hendrik (Hekkie) Murphy (74) net so ’n skok vir die plaaslike gemeenskap.
Murphy was voorheen die hoof van die Laerskool Warmbad buite die dorp.
Met die ter perse gaan van Die Hoorn was inligting oor begrafnisreëlings vir Murphy nie bekend nie. (Deur Deon Meyer)
Nog twee oud-skoolhoofde sterf in Kannaland
Peter (Pietie) Kannemeyer (64, links) en Hendrik (Hekkie) Murphy (74). Foto’s verskaf