Jong vlieënier van hier sterf in ongeluk

Nicole Mienie (21). Foto: Facebook

DIE 21-jarige Nicole Mienie (21) het Dinsdag tragies in ’n vliegtuigongeluk saam met vier Duitse toeriste (’n ma, pa en twee dogters) naby Impalila Eiland in die Zambezi-streek gesterf.

Mienie, wat van Oudtshoorn af kom, was die vlieënier van die vliegtuig, ’n Cesna C120. Die vliegtuig het na verneem word kort nadat dit om 12:00 opgestyg het, in die Zambezirivier neer­gestort.

Teen druktyd was die oorsaak van die ongeluk nog nie bepaal nie, maar volgens Namibiese nuusberigte gaan plaaslike owerhede ’n volledige ondersoek van stapel stuur.

Mienie het haar vlieëniersopleiding by Aifa op Oudtshoorn voltooi, en later haar kommersiële lisensie in George voltooi. Sy het vroeg in Mei vanjaar na Namibië verhuis waar sy as vlieënier gewerk het.

Volgens Christo Stroebel van Aifa was sy ’n uitstekende vlieënier en baie goeie mens. Sy het ook tydens haar tydperk by Aifa die Chinese studente bygestaan met Engelse lesse
Mienie laat haar ouers en ’n suster agter. (Deur Angelique Erasmus)