
Wyle Nico du Bois.
DIE Oudtshoorn Perde-uithourit vind dié naweek (2 tot 3 September) vir die 25ste jaar by die Kansa Krale net buite Oudtshoorn plaas, met uithouritte oor 160 km, 120 km, 80 km en 40 km.
Die rit sal voortaan bekend staan as die Nico du Bois Oudtshoorn Uithourit, ter nagedagtenis aan Nico du Bois (65), wat in 2017 tragies in ’n motorongeluk gesterf het en baie betrokke was by uithouritte.
Nico, ’n kranige uithourit-ruiter, het onder meer aan die gewilde en bekende Fauresmith-uithouritte deelgeneem. Hy was bekend in landbou- en perdekringe, en ’n geliefde Oudtshoorniet. Nico was ook baie jare betrokke by Klein Karoo Veilings en Veebemarking.
Nico se lewensvreugde, energie en geesdrif was wyd bekend en geliefd.
So het dié jaarlikse perde-uithourit ontstaan
Die eerste Oudtshoorn Perde-uithourit is op 28 Maart 1997 op die plaas Rooirivier sowat 20 km vanaf De Rust gehou. Dit is deur Piet Wannenburg snr en die Wes-Kaap Uithouritklub (WCERA) gereël. Die rit het tot in 2012 daar plaasgevind, waarna Nico die aanbieding van die uithourit oorgeneem het.
Die rit is herdoop na die De Zeekoe Meerkat Uithourit en is vir die volgende drie jaar by die Kansa Krale aangebied.
Dit het van 2016 tot 2018 na die Berluda Gasteplaas in Schoemanshoek geskuif, voordat dit in 2019 teruggeskuif is na die Kansa Krale.
As gevolg van Covid-19-inperkings kon die rit nie in 2020 plaasvind nie, maar in 2021 was dit weer in volle swang, met sowat 100 perde wat deelgeneem het.
Almal genooi om vanjaar saam te kom kuier en kyk en die pragperde in aksie te sien
Vanjaar vind die rit weer by die Kansa Krale net buite Oudtshoorn plaas.
“Ons is opgewonde oor die ruiters wat vanjaar aan die rit gaan kom deelneem, en bied vir die eerste keer ook ’n 160 km-rit aan,” sê Henk Basson, voorsitter van die Outeniqua Uithouritklub wat die rit aanbied.
Vrydag spring die eerste perde om 08:00 weg vir die 80 km-rit en sowat 30 minute daarna spring die 40 km-perde weg.
Saterdag skop die ritte sommer in die vroeë oggendure af, met die 160 km-perde wat om 03:00 wegtrek. Daarna sal die 120 km-perde om 05:00 wegspring. Vir diegene wat nie so vroeg opstaan nie, sal die 80 km- en 40 km-perde in die daglig vanaf 07:30 wegspring.
Die klub nooi Oudtshoorniete uit om die rit te kom bywoon en die pragperde in aksie te sien.
Heerlike kos en drinkgoed sal te koop wees. (Slegs kontant word aanvaar.)
“Ons wil graag elkeen van ons borge bedank vir hulle ondersteuning; sonder hulle sou die rit beslis nie moontlik gewees het nie,” het Basson bygevoeg. (Deur Angelique Erasmus)
