Polisie looi dwelmhandel in die Klein Karoo!

DWELMHANDEL in die Klein Ka­roo is Saterdag ’n opstopper ge­gee toe lede van die Tuinroe­te-blitspatrollie en Ladismith Po­li­sie beslag gelê het op 1 006 man­drax-tablette en 120 gram tik wat op die R62 in ’n taxi gevind is.

Die dwelms, met ’n geraamde straat­waarde van R92 000, was volgens voor­lopige ondersoeke bestem vir Calitzdorp.

Volgens sers Christopher Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is die blitspatrollie en polisie omstreeks 16:15 tussen Barrydale en Ladismith ontplooi nadat inligting ontvang is oor ’n besending dwelms.

Terwyl hulle ’n Toyota Quantum-taxi deursoek het, het ’n pas­sasier wat ’n pakkie laat val het, hul aan­dag getrek en is die dwelms in sy bagasie gevind. Dié man, van Stellenbosch, is in hegtenis geneem op ’n aanklag van handel in dwelms.

Dwelms ook tussen O’hoorn en George en in Dysselsdorp gevind

’n 18-jarige is Woensdag 24 Augustus tussen Oudts­hoorn en George in hegtenis ge­neem op ’n aanklag van die besit van dwelms nadat lede van die Tuinroete Misdaadintelligensie en Attaqua K9-eenheid (hon­de-eenheid) inlig­ting ontvang het dat ’n blou Audi A4 moontlik onwettige dwelms op die N12 vervoer.

Dié voertuig het, nadat dit deur die polisie opgemerk is, skielik tot stil­stand gekom. Die voertuig en om­gewing is deursoek en 100 gram tik is gevind.

Op dieselfde dag het die polisie en honde-eenheid ook dwelms en ammunisie in ’n huis in Kokstraat, Dysselsdorp gevind na ’n wenk. Daar is beslag gelê op 442 mandrax-tablette, vyf Mandrax-kwarte en twee bankies tik. ’n Polisie-plofstofhond het die beamptes gelei tot die ontdekking van een rondte ammunisie wat in die badkamer versteek was. ’n 29-jarige man is in hegtenis geneem op aanklag van die besit van dwelms en die onwettige besit van ammunisie.