DIE speaker van die Groter Oudtshoorn-raad, Johan Allers (VF Plus), het opdrag van die provinsiale regering ontvang om ’n ondersoek in te stel na drie raadslede, Colan Sylvester (OGI), Leon Campher (Advieskantoor) en Suzanne Jansen (PA).
Allers het Maandag by ’n raadsvergadering dié inligting bekend gemaak, maar nie aangedui waaroor die ondersoek handel nie.
Die ANC-hoofsweep, Mziwoxolo Tyatya, asook ander raadslede het Allers herhaaldelik gevra waaruit die klagtes teen die drie raadslede spruit, maar Allers het aangedui dat die vergadering nie die plek is om die klagtes te bespreek nie, en dat hy volgens wet slegs die afkondiging in die raad moes maak.
Navrae van Die Hoorn aan die munisipaliteit oor die klagtes teen die raadslede en die ondersoek is teen druktyd nie beantwoord nie.
Navrae wat aan Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering gestuur is, was ook teen druktyd nie beantwoord nie.
Wouter Kriel, woordvoerder van Bredell, het egter wel bevestig dat die navrae aandag geniet.
Nuwe waarnemende bestuurder
Gerald de Jager, hoof van finansies by die munisipaliteit, neem tans as munisipale bestuurder van die Groter Oudtshoorn waar in die plek van Walter Hendricks wat Donderdag (25 Augustus) as waarnemende munisipale bestuurder bedank het.
Die proses vir die aanstelling van ’n permanente munisipale bestuurder is tans aan die gang met ’n kortlys van aansoekers wat deur die burgemeesterskomitee saamgestel sal word.
Afskryf van verkeersboetes
Die afskryf van verkeersboetes wat uitgereik is deur die maatskappy Syntell vanaf 2020 tot en met 30 Junie vanjaar, is ook tydens die vergadering bespreek.
Volgens ’n verslag is dit byna onmoontlik om hierdie boetes in te vorder – veral van motoreienaars wat buite Oudtshoorn bly, en is voorgestel dat dit afgeskryf moet word.
Die raad het egter besluit dat die item verder ondersoek moet word, en dat die munisipaliteit nie kan bekostig om bloot net boetes af te skryf nie.
Toetslopie met nuwe werksure
Die raad het voorts besluit om nuwe werksure vir die munisipaliteit vanaf 1 September oor die volgende drie maande uit te toets. Maandae tot Donderdae se werksure sal vanaf 07:30 tot 16:30 wees, en op Vrydae van 07:30 tot 13:30.
Dit sal hopelik produktiwiteit bevorder omdat die aangepaste werksure met kontrole-prosedures gepaard sal gaan. Dit sal beteken dat alle amptenare boek moet hou van hul daaglikse bewegings, en indien die raad sou vind dat die nuwe werksure nie werk nie, sal dit afgelas word. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Drie raadslede ondersoek
Johan Allers, speaker van die Groter Oudtshoorn munisipale raad.
Foto: Stefan Skapie Goosen