UITGEBREI. Opgegradeer. Gemoderniseer. En beslis die veiligste inkopiebestemming in die Klein Karoo.
Dit is die “nuwe” Queen’s Mall op Oudtshoorn wat oor die afgelope meer as ’n jaar vergroot en opgegradeer is, terwyl dié sentrum se sekuriteit ook verder opgegradeer is.
Volgens De Villiers Neethling van Vestsec Ten, die maatskappy wat die Queen’s Mall besit, het die uitbreidings drie nuwe nasionale huurders na Oudtshoorn gebring wat nog nie voorheen op die dorp was nie – Footgear, Pick n Pay Clothing en Mr Price Sport. Die nuwe winkels het op hul beurt nuwe werksgeleenthede geskep en dra daartoe by dat die sentrum ’n wyer verskeidenheid bied aan kopers uit die Klein Karoo.
Twee groot en gevestigde besighede in die Queen’s Mall, die Queens Mall Apteek en PNA, het hul winkels vergroot en spog nou met veel groter vloerspasie, terwyl Pick n Pay se drankwinkel ook vergroot is.
Maar dit is nie al nie. Daar wag nog ’n paar goeie uitbreidings by van die winkels in die Queen’s Mall!
Een hiervan is verdere uitbreidings wat kom by Food Lovers Market, terwyl modernisering van die gedeelte van die Mall tussen Pep Stores en Mr Price Home ook aan die beurt gaan kom. Die werk aan hierdie nuwe uitbreidings sal na verwagting vroeg in 2023 voltooi wees.
Meer en beter parkeerplek geskep
Die uitbreiding en opgradering van die parkeerterreine by die sentrum nader voltooiing. Behalwe vir die nuwe parkeerterrein wat met toestemming van die Oudtshoorn Munisipaliteit op die oop stuk grond agter die dorpsbiblioteek geskep is, is groot gedeeltes van die munisipale parkeerterrein reg voor die Mall deur die ontwikkelaar op sy koste opgegradeer.
Sekuriteitstelsel verder uitgebrei om ook verdagte voertuie te identifiseer
Die Queen’s Mall staan reeds bekend as ’n baie veilige inkopiebestemming, met sekuriteitspersoneel wat 24 uur aan diens is asook ’n uitgebreide sekuriteitskamerastelsel.
Die sekuriteitstelsel is volgens Neethling nou uitgebrei met nog nuwe kameras asook nuwe tegnologie wat nommerplaat-identifisering doen.
Laasgenoemde identifiseer enige onwettige nommerplaat en stel dadelik alle sekuriteitsgroepe – die polisie en verkeersdienste ingesluit – in kennis dat daar ’n verdagte of gesteelde of gesoekte voertuig op die terrein is!
Op die platteland wil baie nog winkel toe gaan
Neethling sê met die besluit om die winkelsentrum uit te brei is in aanmerking geneem dat die kleinhandelbedryf post-Covid-19 verander het.
“Groot gevestigde handelsmerke het hul besigheidstrategieë verander en begin fokus op kleiner winkels en internetbemarking.
“Wat egter duidelik geblyk het oor kooppatrone op die platteland, is dat mense steeds iewers heen wil gaan om inkopies te doen.
“Dit is egter belangrik om vernuwend te wees en belangrik om ’n fasiliteit op standaard en relevant te hou.
“Daar was ook ’n behoefte vir nog nasionale huurders om ’n voetspoor in die Klein Karoo te kry.
“Die relevansie van die Queen’s Mall soos dit nou is, gaan vir jare nog so wees.”
So baat Oudtshoorn en inwoners by die uitbreiding en opgradering van Queen’s Mall
• Tydens die opgradering is sowat R20 miljoen op die dorp bestee.
• Vier van die vyf professionele konsultante betrokke by die projek is van Oudtshoorn.
• Daar is werk geskep vir 25 verskillende subkontrakteurs waarvan die meerderheid van Oudtshoorn is.
• Die opgradering en plaveiwerk op die parkeerterrein word ten volle deur die eienaars van die Queen’s Mall befonds. Sowat 90% van die parkeerterrein behoort aan die Oudtshoorn Munisipaliteit met die Queen’s Mall wat gebruiksreg daarvan het.
Die skoonmaak en voorbereiding van die parkeerterrein agter die biblioteek asook die plavei-werk daar was ’n werkskeppingsprojek waardeur werk aan verskeie klein plaaslike kontrakteurs gegee is.
• Die verfraaiing van die terrein en sypaadjie met tuine, vetplante en spekbome asook die onderhoud daarvan word deur die eienaars van die sentrum befonds en gedoen. (Deur Liesel le Roux)

Pick n Pay, Queens Mall Apteek en Fleur Juweliers (links) doen al van die begindae van die Queen’s Mall sake hier.

’n Gedeelte van die parkeerterrein voor die Queen’s Mall waar die voorheen gehawende teeroppervlak deur die eienaar van die Queen’s Mall vervang is met plaveistene. Sowat 90% van die parkeerterreine by die Queen’s Mall is op munisipale eiendom geleë, maar ingevolge ’n ooreenkoms het die Queen’s Mall gebruiksreg daarvan en is dit nou ook opgegradeer met plantryke eilandjies soos op die foto.

Ook by dié gedeelte van die Queen’s Mall waar Food Lover’s Market tans geleë is (bo), is uitbreidings op pad. ’n Netjiese parkeerterrein (foto onder) is ook reeds as deel van die opgraderings oorkant die pad tussen die Oudtshoorn Museum en Super Carwash ingerig.
