Herwinning ‘almal se plig’, sê ACVV

By die ACVV in Baron van Reedestraat, met die herwinbare materiaal wat hulle binne twee dae ingesamel het, is van links Ilse Baartman, kombuisassistent; Hannelie Eloff, kombuismatrone; Elsabé Kelder, dienssentrumbestuurder; Rachel April, Gottlandhuis se algemene assistent; Dawid Meyer, faktotum; en Michél Maree, dienssentrumklinieksuster. Foto: Stefan Skapie Goosen

AS deel van nasionale herwinningsdag, wat op 17 September gevier is, het die inwoners en veral personeel van die ACVV op Oudtshoorn die belangrikheid van herwinning beklemtoon deur in twee dae agt rommelsakke se herwinbare materiaal bymekaar te maak.

Die doel hiervan, volgens Michél Maree, klinieksuster by die dienssentrum, was nie net om te wys hoeveel herwinbare materiaal in ’n kort periode ingesamel kan word nie, maar ook om Oudtshoorniete bewus te maak van hoeveel herwinbare materiaal ’n mens daagliks weggooi wat dan net op die ashoop beland.

Al is die materiaal wat bymekaar gemaak is afkomstig van die ACVV se verskeie tehuise; onder meer Tuishuis en Gottlandhuis in Baron van Reedestraat, het Maree gesê en dat dit juis te danke was aan die inwoners se pogings om self hul herwinbare rommel van gewone rommel te skei.

Die jammerte is dat daar slegs een herwinningsaanleg op die dorp is en dat ’n mens self jou herwinbare materiaal daarheen moet neem. Die aanleg is in Oostelikeweg.

In stede soos Kaapstad en elders in meer gevorderde lande word herwinbare materiaal by mense se huise afgehaal.

Volgens Die Hoorn se inligting kan inwoners self hul glas, blikkies en plastiek na die aanleg in Oostelikeweg neem. Slegs een maatskappy op die dorp lewer ’n “wegry”-diens.

Maree het gesê inwoners moet nie net meer probeer om hul herwinbare rommel in hul huishoudings of besighede van ander rommel te skei nie, maar ook meer bedag wees op waar daardie herwinbare rommel beland. (Deur Stefan Skapie Goosen)