DIE Oudtshoorn Polisie Gemeenskapsdienssentrum, wat die polisiekantore op Oudtshoorn, Bridgton en Bongolethu insluit, het onlangs die tweede plek in die Tuinroete behaal in die Suid-Afrikaanse Polisiediens se effektiwiteitsindeks.
Dié indeks bepaal hoe effektief die Suid-Afrikaanse Polisiediens hul werk doen.
Dit was nie net Oudtshoorn se dienssentrum wat uit 21 sentrums in die Tuinroete uitgestaan het nie, maar ook Dysselsdorp se sentrum, wat in die derde plek geëindig het.
Patrick Blaauw, voorsitter van die Oudtshoorn Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het in ’n verklaring brigadier Susan Crafford, die stasie-bevelvoerder, en haar span gelukgewens met die prestasie en gesê dat hulle hierop moet voortbou.
Hy het Oudtshoorniete aangemoedig om die polisie by te staan om misdaad te bekamp deur paraat te wees, onwettighede aan te meld en nie gesteelde goed te koop nie.
Volgens die GPF neem gevalle van geslagsgebaseerde- en huishoudelike geweld met rasse skrede toe.
“Ander dringende kwessies sluit in; die afbreek van eiendom, kinders wat doelloos ronddwaal en nie skool bywoon nie, kinders wat as dwelmmuile gebruik word en eiendomme wat wederregtelik betree en beroof word,” het hy gesê.
Blaauw het ’n beroep op inwoners gedoen om nie die reg in eie hande te neem nie, nie in te meng met polisie-aksies nie en ook nie die polisie fisiek of mondelings aan te val nie.
“Vandalisme, aggressiewe ge-drag en geweld teenoor polisiemanne, -vroue en -voertuie grens aan direkte aanvalle op die staat,” het hy bygevoeg. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Pluimpie vir polisie
