Saak teen Luthando na streekhof oorgeplaas

DIE saak teen Luthando Otto (27) van Bongolethu, Oudtshoorn wat van moord aangekla word, is Vrydag (8 Oktober) in die Oudtshoorn Landdroshof vir verhoor na die Streekhof oorgeplaas.

Otto erken in ’n beëdigde verklaring dat hy die oggend van 21 Maart 2020 vir Abriel van Wyngaardt (27) in Lappertstraat, Bridgton, met ’n mes gesteek het.

Ao Martin le Roux het met Otto se borgaansoek getuig dat Otto sy volle samewerking aan die polisie gegee het. Hy was volgens Le Roux geskok toe hy verneem het dat Van Wyngaardt aan die meswond gesterf het.

Landdros Stephanie Strydom het die saak tot 19 Oktober uitgestel en Otto se borgtog van R1 000 sowel as sy borgvoorwaardes tot dan verleng. (Deur Garnett Wicomb)