Bridge terug op Bloom-bestuur, ooptuinsafari opgedra aan Petzer

Barbara Bridge, stigter van Barrydale in Bloom, moes noodgedwonge weer betrokke raak by die reëlings van die dorp se beroemde ooptuinsafari. Hierdie jaar se ooptuinsafari word aan die afgestorwe Shane Petzer se nagedagtenis opgedra. Foto: Herbert Dark

BARRYDALE in Bloom se stigter, Barbara Bridge, moes noodgedwonge weer die leisels van die organisasie oorneem nadat haar opvolger, Shane Petzer, verlede week aan ’n hartaanval oorlede is. Bridge het in 2012 hierdie opwindende jaarlikse instelling van stapel gestuur en het juis besluit om nie hierdie jaar haar tuin vir die publiek oop te maak nie.

“Ek wou so graag ook net vir ’n slag van die geleentheid gebruik maak om al die ander pragtuine in die dorp te besoek. Niks kon my egter vir hierdie voorberei nie,” het Bridge gesê.

Bridge en Richard Panaino het dadelik ingespring en alles in hul vermoë gedoen om te sorg dat al die planne wat Petzer ter voorbereiding van Barrydale in Bloom gemaak het, uitgevoer word. Die dorp se ooptuinsafari vind steeds eerskomende naweek (16 en 17 Oktober) plaas en daar is besluit dat dit ter ere van Petzer se nagedagtenis aangebied sal word.

“Daar was reeds beplan om geld vir die gedenktuin vir afgestorwe geliefdes by die Barrydale Kliniek in te samel. Ons samel egter nou die geld in om ’n bankie en gedenkplaat vir Shane op te rig.”

Bridge het bevestig dat daar op ’n latere geleentheid ’n spesiale boom vir Shane op Barrydale geplant sal word.
Intussen blom Barrydale vanjaar behoorlik ná ’n uitstekende reënseisoen. Sowat 21 tuine in die dorp gaan oop wees vir die publiek.

Daar word ook ’n mark by die Karoo Daisy aangebied. Vermaak word verskaf deur Rueben Hart en Mark Banks. Ander aktiwiteite sluit in ’n pretstap asook ’n bergfietswedren deur die dorp. (Deur Mickey Mentz van News62)