Wat is plaaslike regering en hoe werk dit – Deel 1

PLAASLIKE regeringsake fokus op die plaaslike regeringsvlak – dié regeringsvlak die naaste aan die mense gesetel met sowat 278 munisipaliteite in die land.

Die land is in nege provinsies verdeel en dié provinsies is op hul beurt in metro’s, plaaslike en distriksmunisipaliteite verdeel. Die 278 munisipaliteite word dus on­der die sambreel van plaaslike re­ge­ring vervat.

Die uitvoerende en wetgewende gesag van ’n munisipaliteit berus by sy munisipale raad. ’n Munisipale raad bestaan uit ’n burgemeester aan hoof; ’n uitvoerende of burgemeesterskomitee wat ge­reeld vergader om die werk van die raad te koördineer en aanbe­ve­lings aan die raad te maak; ’n speaker wat as voorsitter by raads­vergaderings optree; raads­lede wat raadsvergaderings bywoon; en komitees, waar ’n paar raadslede vergader om spesifieke kwessies te bespreek. Raadslede neem besluite namens die munisipaliteit en hou toesig oor die administrasie van die munisipaliteit.

ʼn Munisipaliteit het die reg om op eie inisiatief die plaaslike rege­ringsaangeleenthede van sy ge­meenskap te bestuur, onderhewig aan nasionale en provinsiale wetgewing soos in die Grondwet be­paal.

Die oogmerke van plaaslike regering is om demokratiese en verantwoordingspligtige regering vir plaaslike gemeenskappe te voor­sien, te verseker dat dienste volhoubaar verskaf word; maat­skaplike en ekonomiese ontwikkeling te bevorder; ’n veilige en ge­sonde omgewing te bevorder; en die betrokkenheid van gemeenskap­pe en gemeenskapsorganisa­-sies in plaaslike regeringsaan­- ge­leenthede aan te moedig.

’n Munisipaliteit moet daarna streef om binne sy finansiële en ad­ministratiewe vermoë dié oogmerke te verwesenlik.
Jou plaaslike regering is vir die volgende dienste verantwoordelik: lewering van elektri­siteit; water vir huishoudelike ge­- bruik; riole­ring en sanitasie; storm­waterstelsel; vullisverwyde­ring; brandbestryding; munisipa­le gesondheidsdienste; besluite rond­om grondgebruik, munisipale paaie; munisipale openbare vervoer; straathandel; slagpale en vars voedselmarkte; parke en ont­span­ningsareas; biblioteke en an­der geriewe; en plaasliketoerisme.

Dit is belangrik om te weet dat die verskaffing van lae­koste-behuising nie ’n munisipale funksie is nie. Die Depar­- tement van Menslike Nedersettings is die departement onder die nasionale regering se Ministerie van Menslike Nedersettings wat verantwoordelik is vir behuising en stedelike ontwikkeling. Die hoof­doel daarvan is die implemen­tering van die grondwetlike mandaat dat “almal die reg tot toegang tot voldoende behuising het”. Die departement verskaf tans be­perk­te fondse aan munisipaliteite om huise te bou.

Munisipale rade het die mag om: munisipale regulasies goed te keur; begrotings en ontwikke­lings­­planne goed te keur; die oplê van erf- en ander belasting; die hef van diensgeld vir munisipale diens­te soos water, elektrisiteit en biblioteke; die oplegging van boe­tes vir enig-iemand wat munisipale wette of regulasies oortree, insluitend ver- keers­boetes en rommelstrooi.

’n Munisipaliteit moet sy admi­-ni­strasie en begrotings asook beplanningsprosesse so struktu­reer en bestuur dat voorrang verleen word aan die basiese behoeftes van die gemeenskap. Maat­skaplike en ekonomiese ontwikkeling van die gemeenskap moet bevor­der word; en die munisipa­li­teit moet aan nasionale en provinsiale ontwikkelingsprogramme deel­neem. Die nasionale en provinsiale regering moet deur wetge­- wende en ander maatreëls munisipali­tei­te se vermoë om hul eie sake te bestuur steun en versterk.

Hoe kan inwoners aan munisipale prosesse deelneem?
Demokrasie beteken “regering deur die mense”. Plaaslike re­ge­ring speel ’n sleutelrol in die fasilitering van openbare deelname. Munisipaliteite moet gemeenskap­pe betrek in besluitnemings­prosesse. Burgers het die reg op deurlopende interaksie met die mense wat hulle verkies het. Munisipaliteite moet dus ’n kultuur van gemeenskapsdeelname be­vor­der; inligting verskaf; kennis gee van vergaderings en ander ge­- leent­hede; die publiek toelaat om vergaderings by te woon, dokumentasie aan die publiek verskaf en ’n webwerf skep.

Inwoners het nie net regte nie, maar ook verantwoordelik­he­de wat hulle moet nakom, onder meer die volgende: hulle moet munisipale dienste-rekeninge betaal, die regte van gemeenskapslede respekteer, munisipale personeel op hul eiendom toelaat en munisipale verordeninge gehoorsaam. Wyks­komitees is ’n belangrike manier vir inwoners om te kommunikeer. As inwoners probeer om te kommunikeer en dit misluk, kan hulle petisies opstel en aan vreedsame betogings deelneem. Wanneer inwoners aanbevelings, voorstelle en ander aanbiedings aan die munisipaliteit doen, het hulle die reg om spoedig antwoorde te ontvang. Deelnemende demokrasie as ’n instrument om bestuur deur deursigtigheid en aanspreeklikheid te verbeter, is noodsaaklik. Gemeenskappe het die reg om in ver­kie­sings te stem en so munisipale rade te wysig indien hulle onte­vrede is.

• Deel 2 volg volgende week en verduidelik onder meer oor wat die twee soorte raadslede – wyk- en proporsionele raadslede – is.
Bron: Harlan Cloete, bui­tengewone lektor by die Skool vir Pu­-blieke Leierskap aan die Univer­siteit van Stellenbosch se navorsing oor munisipale bestuur. Hoofstuk 7: Plaaslike Regering- (artikels 151-164) wetgewing. (Saamgestel deur Kobus Heyns)