Die Wes-Kaapse Vereniging vir Mense met Gestremdhede (Western Cape Association for People with Disabilities – WCAPD) het die Oudtshoorn APD-tak se bestuurskomitee ontbind en alle konstitusionele magte na die provinsiale bestuur oorgeplaas. So lui ’n verklaring uitgereik deur Elmien Grobbelaar, provinsiale direkteur van ondersteuningsdienste vir WCAPD.
“Die provinsiale bestuurskomitee dien dus as die bestuur van die Oudtshoorn APD,” het sy gesê.
Die Hoorn het die WCAPD genader nadat twee sms’e deur besorgde inwoners aan Die Hoorn gestuur is oor die bestuur van die Oudtshoorn APD. Die sms’e het as volg gelui:
- Heard a rumour that APD Oudtshoorn is currently operating without a Management Committee. How is that possible? And who is in charge then? Concerned Citizen
- Wat gaan aan by die Oudtshoorn APD? Wie bestuur dit? Wie hanteer die finansies, ons skenkings? Hoekom al die geheimhouding? Van ’n besorgde gemeenskapslid.
Volgens Grobbelaar is die Oudtshoorn APD-tak reeds sedert 2015 gedeeltelik ondersteun en geadministreer deur die WCAPD. “Die reëling het ontstaan nadat konflik binne die bestuurskomitee daartoe begin bydra het dat die Oudtshoorn-bestuur nie meer die stabiele bestuur van die Vereniging kon verseker nie,” het Grobbelaar gesê.
Grobbelaar sê die ondersteuning en insette van die WCAPD het “geen vrugte afgewerp nie” en dat die onvermoë van lede om konstruktief tot voordeel van die vereniging saam te werk bygedra het dat bestuurslede en APD-lede bedank het.
“APD-lede en gemeenskapslede se onwilligheid om betrokke te bly by die werksaamhede, en lede van die publiek se onwilligheid om betrokke te raak by die vereniging het ook hiertoe bygedra,” het Grobbelaar gesê.
Volgens Grobbelaar bepaal die Oudtshoorn APD se Grondwet (2014) dat ten minste ses lede op die bestuur sal dien. Die bestuurskomitee het op 19 Oktober vanjaar uit slegs twee lede bestaan, wat onder andere oor geen konstitusionele magte beskik het nie; oor geen magte beskik het om lede te kon koöpteer om op die bestuur te dien nie en oor geen besluitnemingsregte beskik het nie.
“Daarom het die WCAPD ingetree en die komitee ontbind,” het sy gesê.
(Deur Stefan Skapie Goosen)
