Dit is uiters skokkende nuus om te verneem dat van die hoogs betaalde amptenary van Oudtshoorn, asook vermoedelik in die Suid- en Wes-Kaap, derduisende rande aan hul werkgewer verskuldig is!
Nog erger is dit om te verneem dat baie van hulle onder administrasie/skuldberegtiging is en byna nie veel van hul salarisse per maand oor het om hierdie skuld te vereffen nie. Die totale som in skuld verskuldig is bykans 40% van die munisipaliteit se uitstaande skuld!
Onlangs het ons verneem van ’n R80 miljoen-lening wat aan ’n bankinstelling op die dorp verskuldig is en blykbaar onbetaald was teen die vervaldatum! Daar is toe van bankinstelling verander aangesien die betrokke bank die skuld opgeroep het.
As motorhandelaar wat baie oplettend ingestel was wie met watter soort motor ry, was dit vir my vreemd om ’n toenemende getal luukse-motors in die munisipaliteit se motorparkeergebied op te merk, motors waarvan die paaie-mente tussen R7 000 en R10 000 moes beloop; dit terwyl dit oral bekend geword het dat bankrotskap die munisipaliteit in die gesig gestaar het.
Erger was my skok toe ek verneem dat die “lakei” van die vorige burgemeester ’n R1 2 miljoen se Audi Sport en ’n R4 miljoen se huis in Stellenbosch kontant gekoop het, dit nadat hy voorheen verskeie kere by my geld kom leen het (en ook by ander) om sy verpligtinge na te kom. Hierdie syfers kom uit sy eie mond soos oorvertel aan die persoon wat vir hom dienste gelewer het by die aankoop van die huis.
So het die woord geloop oor ’n sekere senior amptenaar wat bedrae van tot R600 000 per maand uit die munisipaliteit se rekening getrek het om die salarisse van sy 60 sogenaamde veiligheidswagte, ingevoer uit die Kaap, te betaal teen R10 000 per kop per maand. Nou wonder ek hoekom die een wag gereeld by my en my vrou kos en geld gebedel het!
My vraag is, waar was die rekenkundige beamptes en die ouditeure toe? Hoe is dit moontlik om net sulke astronomiese bedrae mis te kyk of toe te laat? Watter kwalifikasies het die munisipale bestuurder en sy lakeie gehad wat in die vorige bedeling hierdie vermorsing en bedrog toegelaat het?
Hierdie inligting is algemene kennis onder sekere raadslede en amptenary.
My mening is dat die ANC-regering behoort te betaal vir sy onbevoegde amptenary se foute, net soos ek oor 42 jaar vir my werknemers se foute moes betaal. Alternatiewelik moet hulle almal in hul persoonlike hoedanighede betaal. Hoekom moet ons getroue belastingbetalers nou hemelhoë dienste en belastings betaal om vir die ANC se onvermoë om te regeer en bestuur op te dok? Is dit dan regverdig?
Ek en ander is ontsettend dankbaar vir die nuwe plaaslike regering van ons dorp wat die dorp nou as’t ware van die ashoop moet optel en probeer herbou terwyl die ANC anderpad kyk oor die gemors wat hulle agtergelaat het.
Baie dankie aan ons burgemeester en raad met ’n nuwe gesindheid van ware versoening en opregte pogings om ons dorp in ere te herstel. Ek hoop van harte dat die lojale ANC-ondersteuners nou tot die besef gekom het van die dwaasheid van die mense wat hulle aan bewind gehou het en sodoende gehelp het om ons infrastruktuur te vernietig.
Die goue reël vir sukses in enige besigheid is harde werk en die regte gesindheid teenoor jou kliënte – nie bekpraatjies, opstande, klipgooi en afbrand nie! Nie “marching” en dreunsang nie, maar harde werk om jou beste te lewer elke dag van die week en ook ná ure! En die plek waar dit begin – jou skakelbordoperatrise wat die telefoon vriendelik beantwoord binne drie luie! En uiters behulpsaam is om ’n mens vining en effektief met die regte persoon in verbinding te bring.
My laaste versoek: die mense wat gelieg en bedrieg het, moet aan die pen ry! Hulle moet betaal en gou ook!
Belastingbetaler, Oudtshoorn