Die mens is besig om aarde te vertrap
Ek verwys na Desmond Windvogel se sms in Die Hoorn van 24 November, en sy pleidooi om geboortes drasties te beperk.
Wees verseker, baie van ons deel jou kommer oor hierdie onderwerp. Ek self het al meermale hieroor geskryf. Die mens is stadig besig om met sy onbeheerde aanwas en behoeftes wat daarmee gepaard gaan, die planeet aarde te vertrap.
Die meeste gemeenskappe is totaal oorbevolk. Kyk maar net, baie leef in swak of haglike omstandighede, met ’n tekort aan geleenthede en basiese geriewe as gevolg van getalle.
’n Kwart van die bevolking is werkloos en sal waarskynlik nooit werk kry nie. Met ’n steeds groeiende bevolking sal daar nooit genoeg geld, behuising of werksgeleenthede vir almal wees nie. ’n Beter lewe vir almal van ons is slegs moontlik as daar minder van ons is. Dit is tog logies; hoe kleiner die gesin, hoe beter die lewensomstandighede.
As die staat al jou eerste kind moet grootmaak deur ’n toelaag, watter hoop en toekoms is daar vir ’n tweede of derde? Jy as ouer moet mos van beter weet. Uiteindelik is die onskuldige kind die lydende party. Teen dié tempo is die staat se toelaes net nie volhoubaar nie.
– Albert Schoeman, De Rust