Rubriek: Die ‘basics’ van die lewe

HERINNERINGSVLUGTE SAAM MET JOHAN STRASHEIM
Die ‘basics’ van die lewe

Juliemaand is dit vroegoggend voor die son opkom in die algemeen bitter koud in die Klein Karoo, en invaltyd is dit nog donker. Ons dag begin oudergewoonte in die werkswinkel oorkant die huis.  

Soos elke oggend begin almal die dag saam in ’n halfmaan terwyl die seën gevra word en vir al die bestaande seëninge dankie gesê word.  

Elke dag, sonder uitsondering word daar oë opgeslaan na die berge en gewonder waar die hulp vandaan gaan kom. Die samekoms eindig met ’n plegtige, luide “amen” van almal.  Laat dit so wees.

Daarna word vinnig terugvoer gevra oor die vorige dag se vordering, planne hersien en word die nuwe dag se nuwe take uitgedeel voordat die span uitmekaar spat.

Dié een oggend is Johannes binne minute terug met ’n somber uitdrukking op sy gesig.

“Meneer, kom kyk gou. Hier lê een van die jong ooie dood in die kraal.” Ag nee, ek haat sulke nuus op my nugter maag. “Wat het haar oorgekom?”

“Weet nie, meneer, maar dit lyk of sy aan gisteraand se korrels verstik het.”

Ons gaan kyk en dit is toe so. Sy het verstik aan die voerkorrels wat ek hulle gee as ’n ekstratjie elke middag laat. Eintlik heel oorbodig, maar hulle is mal daaroor en die ekstra energie vir die koue nagte kan beslis nie kwaaddoen nie. Hulle “like” die korrels, ek “like” hulle. Jy probeer goed doen, en dan so iets. Ai tog. Die probleem is dat hulle te gulsig aan die lekker lusernkorrels vreet, die goed heel probeer afsluk en verstik. Dit het al voorheen gebeur.

“Toemaar Johannes, daar is niks wat ons nou kan doen nie.  Gaan haal haar maar uit asseblief.  Julle weet wat om te doen.”  Ek draai weg en sien dit stoot nou sterk lig oor die horison. Die son het al gedraai, maar dit lyk en voel nie regtig so nie.  Die nuwe dag bring nuwe hoop.

Dan, net om die draai by die lammer-kraal kry jy twee trotse grootoog ooie met nuwe lammertjies, een ’n tweeling-tjie. Pasgebore met nat naelstringetjies, spierwit blink velletjies en nog heelte-mal onskuldig. Hulle is te pragtig met hulle swart koppies ewe bewerig op nuwe beentjies en sagte voetjies, seker minder as ’n uur oud. Net oë vir die ma en haar lekker warm melk terwyl hulle die eerste keer die son sien opkom. Sulke nuwe lewe is elke keer wonderlik om te ervaar.

vliegtuig

Ek dink onwillekeurig terug aan my pa. Hy is al lankal nie meer met ons nie, maar was ’n baie spesiale mens. Baie mense sê seker so en ’n ou besef dit, maar besef is relatief. As jy ouer word en meer tyd gehad het om oor alles na te dink, raak jou sin van besef sterker en dieper en waardeer jy die dinge van die lewe net soveel meer. Hy was eintlik vol wysheid en het besondere goeie oordeel gehad.  Dis seker wat van hom so ’n top skeidsregter gemaak het.  

Toe ek as jongmens hom vra hoekom hy van alle moontlikhede as dokter ’n ginekoloog geword het, was sy antwoord: “My seun, ek is ’n dokter. As ginekoloog werk ek nie regtig met siek mense nie en die emosionele ervaring van nuwe lewe is elke keer wonderlik om te ervaar. Ek is bevoorreg.”  My ou pa. Hy het baie talente gehad, maar daarmee saam ’n weersin vir wiskunde. “Matesis” soos hy gesê het. Hy het altyd grappenderwys gesê daar is drie tipes mense in die wêreld – dié wat goed is met wiskunde en dié wat nie is nie.

Ek kom agter ek staan en staar met ’n glimlag na die skapies. Ek moet aangaan. Die wintersdae is kort en die werk baie.

Dit is mooi en sulke dingetjies hou jou naby aan die ander basiese dinge van die lewe. Al is hulle soms nie lek-ker nie. Dinge soos lewe en dood. Op ’n plaas is ’n mens maar gedurig naby aan hierdie “basics” van die lewe.

Die besef dat dit so is en die waardering daarvan maak jou gemoed rustig. ’n Ou wil nou nie sentimenteel raak nie… of wil jy maar bietjie so nou en dan?