Die KKNK het ’n indrukwekkende program vir sy 23ste fees Sondag in die Paarl bekend gestel.
Die fees wat volgende jaar op die Paasnaweek eindig, gaan heelwat swaargewigte in die kunste na Oudtshoorn bring – Pieter-Dirk Uys én Tannie Evita kom fees toe, David Kramer bring ’n hiphop-blyspel hierheen, terwyl almal reeds praat oor Karen Zoid wat saam met die Gereformeerde Blues Band – Johannes Kerkorrel se orkes – gaan saamspan.
Die bekendes en briljantes en snaakses en geliefdes gaan almal hier wees – Petronel Malan, Rocco de Villiers, Elvis Blue, Mathys Roets, Emo Adams, Bobby van Jaarsveld, Katlego Maboe en Zolani Mahola (Freshly Ground). Grotes soos Antoinette Kellermann, Tinarie van Wyk Loots, Stian Bam, Elize Cawood, Sandra Prinsloo, Waldemar Schultz, Anna-Mart van der Merwe, Dawid Minnaar, Frank Opperman, Ivan Botha, Donnalee Roberts, Casper de Vries, Schalk Bezuidenhout, Wessel Pretorius, Pierre van Pletzen, Marion Holm.
En dit is net om ’n paar te noem.
Op Oudtshoorn was daar die week opwinding oor die 23ste fees, maar daar is ook deur inwoners op sosiale media gekla omdat die bekendstelling – wat gemik was op die kunstenaars, borge en die media – nie op Oudtshoorn plaasgevind het nie.
Hoewel dit dalk na ’n goeie plan klink – op emosionele vlak – maak dit doodeenvoudig nie uit ’n finansiële en logistieke oogpunt sin om so ’n bekendstelling wat slegs enkele ure duur op die afgeleë Oudtshoorn te hou nie. Dit is net te ver in afstand en in tyd van diegene wat met dié bekendstelling bereik moes word.
Wie sou boonop vir so ’n duur uittog na Oudtshoorn betaal het?
Borge sal waarskynlik verkies om eerder produksies by die fees te borg as ’n groot uittog van kunstenaars, borge en die media vir ’n funksie van enkele ure op Oudtshoorn?
En hoekom? Almal weet tog die KKNK is ’n Oudtshoornfees wat in April volgende jaar gaan plaasvind.
Oudtshoorniete kan gerus hul onsekerhede oor die fees afskud. Vandat ek in 2001 op die dorp geland het, het doemprofete my vertel die fees gaan skuif – George toe, Stellenbosch toe, Kaap toe…
Die KKNK se naam sê dit vind in die Klein Karoo plaas. Mag inwoners eerder die fees omarm, bemark, en met die kenmerkende Klein Karoo-gasvryheid onweerstaanbaar maak vir besoekers van oral.
– Liesel le Roux