Debuut-kortfilm vanaand

Plaaslike kunstenaar van Oudtshoorn, Wilhelm Vincent, se debuut-kortfilm word vanaand op Wêreld-Vigsdag by ArtKaroo vertoon.           

Foto: Stefan Skapie Goosen

Debuut-kortfilm vanaand

Dit is vandag Wêreld-Vigsdag en op Oudtshoorn wil die plaaslike kunstenaar, Wilhelm Vincent,  vandag met sy debuut-kortfilm ’n bewustheid van die kwessie kweek.

Die kortfilm, Bloed – ’n donker, emosionele, eensame tog hoopvolle produksie, sal deel uitmaak van ’n wêreldwye uitsending van ses kortfilms wat deur kunstenaars regoor die wêreld vervaardig is. In samewerking met Balaclava.Q, ’n internasio­nale visuele kunsprojek, gaan die kortfilms onder die vaandel van HIVideo op ses plekke regoor die wêreld uitgesaai word.

Die kortfilms – nie langer as 10 minute elk nie – word vandag in Manchester (Verenigde Ko­nin­kryk), Kalifornië (VSA), Parys (Frankryk), San Juan (Puerto Rico), Toronto (Kanada) en natuurlik Oudtshoorn (Suid-Afrika) vertoon.

Vincent het vroeër vanjaar met sy eerste kuns­uitstalling, kontak gemaak het met Balaclava.Q en sê dinge het van daar af soos ’n sneeubal gegroei.

“In Suid-Afrika voel ek dat daar nog nie aanvaarding van my kuns is nie; so asof mense bang is daarvoor. Deur op ’n internasionale platform te kan staan met my kuns hoop ek dit ‘vat pos’.

“Mense vergeet hoe ernstig die epidemie is omdat hulle deesdae baie afgestomp word daarteen. As kunstenaars is ons rol in die samelewing om realiteit – alhoewel dit op ons eie manier is – uit te beeld.

“Hierdie projek is ’n bewusmaking van Vigs en die effek wat dit het op nie net die persoon wat daarmee te doen het nie, maar die mensdom as geheel. Daar is ’n stigma dat mense eensaam moet wees en alleen daarteen moet veg, maar daar is hoop. Mens kan losbreek daarvan en dit gaan al­mal verg om dit te bewerkstellig,” sê hy.

Vincent se film het twee weke geneem om te verfilm. Hy het vriende en ’n filmspan uit Noorweë ingespan om hom te help.

Die film, wat in swart en wit geskiet is, herinner aan Vincent se kuns. “Mense voel eensaam en vasgevang – daarom die donker gevoel. ’n Mens hou woede binne hom of haar oor die sosiale stigma van Vigs. Gevoelens dat jy oorgelaat word aan jou eie donker gedagtes oorval die persoon daagliks. My film beeld dit uit, maar ook die losbreek of strewe na die losbreek daarvan. Jy hoef nie alleen te wees nie,” sê hy.

Oor die bekendstelling van die film is Vincent opgewonde. “Dit is so asof dit ‘buite’ my ge­beur. Dit was ’n baie uitputtende projek,” het hy gesê.

• Besoek vanaand ArtKaroo in die Prince Vintcentgebou, Baron van Reedestraat, en kom “spare a thought for those who suffer in silence,” soos Vincent dit stel. Die vertoning begin om 19:00.

 

(Deur Stefan Skapie Goosen)