DATA van die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid oor Covid-19-gevalle in mense ouer as 60 jaar in die week van 14 tot 20 Augustus toon oorweldigend hoe effektief huidige entstowwe is. Die Wes-Kaap het in dié betrokke week die piek van die derde golf ervaar.
Volgens dié data was 92% van die 2 455 mense bo 60 jaar wat daardie week positief getoets is vir Covid-19, nie ten volle ingeënt nie.
Van die 729 mense bo 60 wat in hospitale opgeneem is, was 96% nie volledig ingeënt nie.
98,3% van die 292 mense bo 60 wat gesterf het weens Covid-19, was nie volledig ingeënt nie.
Hoewel entstowwe nie 100% effektief is nie, dui ’n ontleding van data in die distriksmunisipaliteite deur die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid dat volledige inenting in ’n groot mate voorkom dat iemand in die hospitaal beland of sterf.
Hier is die betrokke data vir 14 tot 20 Augustus in die Tuinroete-distrik (wat die Groter Oudtshoorn en Kannaland insluit), die Sentraal Karoo en die Kaapse Metro:
Tuinroete
• 333 gevalle is gediagnoseer, waarvan 96% nie volledig ingeënt was nie.
• 96 gevalle het hospitalisasie nodig gehad, waarvan 95,8% nie volledig ingeënt was nie.
• 31 sterftes is aangeteken, waarvan niemand ten volle ingeënt was nie – dit beteken dat 100% van die aangemelde sterftes mense was wat nie volledig ingeënt was nie.
Sentraal Karoo
• 46 gevalle is gediagnoseer, waarvan 96% nie volledig ingeënt was nie.
• 19 gevalle het hospitalisasie nodig gehad, waarvan niemand ten volle ingeënt was nie – dit beteken dat 100% van die opnames mense was wat nie volledig ingeënt was nie.
• 7 sterftes is aangeteken, waarvan niemand ten volle ingeënt was nie – dit beteken dat 100% van die aangemelde sterftes mense was wat nie volledig ingeënt was nie.
Kaapse metro
• 1 413 gevalle is gediagnoseer, waarvan 90% nie volledig ingeënt was nie.
• 433 gevalle het hospitalisasie nodig gehad, waarvan 94,7% nie volledig ingeënt was nie.
• 177 sterftes is aangeteken, waarvan 97% nie volledig ingeënt was nie.
Die data toon voorts dat sterftes onder diegene wat wel volledig ingeënt was, die gevolg was van Covid-19 (’n sogenaamde deurbraak-infeksie) en die oorledenes erg bejaard was of onderliggende siektes gehad het.
Wes-Kaap-data toon hoë effektiwiteit van entstof teen hospitalisasie en die dood
