Hoftolk by roudiens gehuldig

Busisiwe Nana. Foto verskaf

“SY het ’n ongelooflike passie vir haar werk gehad en selfs tydens haar siekte nog kom werk.”

So het adv Michelle Weyers verlede Donderdag (16 September) in haar huldeblyk tydens ’n rou­diens vir Busisiwe Nana (43), ’n tolk by die Oudts­hoorn Landdroshof, gesê.

Nana, by almal bekend as Busi, is op 9 September na ’n kort siekbed oorlede.

Weyers het namens die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) Nana vir haar werk bedank en aan die familie gesê dat sy ont-hou sal word as ’n unie­ke mens met wie jy nie kanse moes vat nie.

Sy was 12 jaar lank ’n tolk by die Oudtshoorn- hof nadat sy ’n paar jaar op Beaufort-Wes werksaam was en dikwels soontoe geryloop het.

Volgens Vuyo Klaasen, hoof-tolk, was sy een van daardie vroue vir wie jy deurentyd op jou tone moes wees omdat sy nie onsin verdra het nie, en nie geskroom het om vir haar regte op te staan nie.

Past Zoe Tyatya het Nana se familie na aanlei­ding van Genesis 24:25 getroos. “Ons is byeen om haar lewe te vier en hulde te bring aan iemand vir wie almal lief was,” het hy gesê.

Volgens landdros Marvin de Vos was Nana ’n baie bekwame tolk. Die hofbestuurder, Juanita Bar­ron, sê sy was hardwerkend en lief vir haar werk en haar fa-milie oor wie sy altyd gepraat het. Die areabestuurder, Royden Boonzaaier, het Nana namens die Departement van Justisie vir haar diens bedank en medelye met haar familie betuig. (Deur Garnett Wicomb)