Toename in voetgangers wat beroof word op Oudtshoorn?

Die Hoorn ontvang die laaste tyd gereeld inligting van inwoners in die Bridgton-, Toekomsrus- en Bongole­thu-omgewing dat voetgangers in dié gebiede van hul selfone, hul kos vir die dag of ander besittings beroof word op pad werk toe.

Volgens een van die inwoners is dit deesdae met almal wat maskers dra, baie moeiker om moontlike rowers te identifiseer.
Ook op sosiale media kla mense dat hulle op straat beroof word.

More Oudtshoorniete, twee van my kollegas is vanoggend beroof deur vyf mans daar by Stuurmanstraat, skryf Marius Rondganger op 5 September op die Facebook-bladsy Oudts­­hoorniete staan saam. Volgens Rondganger is sy kollegas van ’n rooi fiets en twee selfone beroof. Stuurmanstraat is in Toekoms­rus.

Leresia Hendricks skryf in reaksie: Ek dink dieselfde vyf mans het my man ook geroof die 13de Augustus. Hulle het sy rugsak en sy foon gevat.

Kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, sê egter die polisie het nog nie so ’n tendens opgemerk onder klagtes wat ingedien word nie. Volgens hom mag dit wees dat inwoners nie klagtes indien nie. Hy het inwoners aangemoedig om klagtes by die polisie te gaan indien indien hulle beroof word. “Roof of diefstal is krimi­ne­le oortredings.

Die polisie kan niemand wegwys wat ’n kriminele saak wil maak nie.” (Deur Liesel le Roux)