DIE Oudtshoorn Polisie het Dinsdag (21 September), ’n dag nadat ’n gesigsamestelling van ’n verdagte op Facebook geplaas is, ’n man vir die roof by PP Kafee in Reserwestraat vasgetrek.
Die kafee het Dinsdagaand 31 Augustus om 19:10 onder ’n roof deurgeloop toe ’n man twee selfone en R500 kontant geroof het.
Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is ’n man wie se voorkoms by dié van die gesigsamestelling pas omstreeks 14:45 deur sekuriteitspersoneel geïdentifiseer en vasgekeer.
Die polisie het hom daarna in hegtenis geneem.
“Dit was beslis die gesigsamestelling wat gelei het tot die inhegtenisname,” het Visser gesê.
“Daar moet nog ’n formele uitkenning van die verdagte gedoen word en die ondersoek duur steeds voort. Die verdagte sal eers Donderdag in die hof verskyn.”
Brig Susan Crafford, stasiebevelvoerder, het haar waardering teenoor al die betrokke partye uitgespreek.
Crafford het gesê daar is goeie samewerking en skakeling tussen die Polisie en die sekuriteitsmaatskappye op die dorp, en dat dit ’n groot verskil maak wanneer dit by die bekamping en oplossing van misdaad kom. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Gesigsamestelling lei tot man se inhegtenisname
Die Oudtshoorn Polisie se gesigsamestelling van die verdagte wat vasgetrek is.