Rolbaldag sorg vir pret en sakeliga om die draai!

Wenner, Leana Bawden (links) en Rudi Venter, Oudtshoorn Rolbalklub vise-pre-sident. (Foto verskaf.)

Rolbal is nie net ’n sport vir die ouer garde of klublede nie, en die Oudtshoorn Rolbalklub het dit Saterdag (18 September) bewys deur ’n pretdag te hou vir die publiek en spelers van buite die dorp.

Dis nie slegs die pretdag wat aandui dat rolbal vir almal is nie – die klub se immergewilde besigheidsliga is ook om die draai, en sal van 20 Oktober sakemanne en hul personeel van regoor Oudtshoorn saambring vir ’n mede-dingende en vermaaklike toer­nooi.

Tydens Saterdag se pretdag het 66 belangstellendes, waarvan 16 van Ladismith, op die Oudtshoorn Rolbalbaan toegesak.
Die top drie spelers van die dag was Leana Bawden van Oudtshoorn eerste, Maud Husselman van Ladismith tweede en die klub se president, Jan van Niekerk, derde.

Besigheidsliga
Inskrywings vir die liga is reeds oop. Die liga, wat 20 Oktober, begin, vind elke Woensdag tot en met 24 November plaas.

Die klub nooi vorige en nuwe spanne om te kom inskryf.

Een inskrywing vir ’n span van vier spelers beloop R1 000.

Volgens die klub is daar plek vir 48 spanne.

Belangstellende besighede kan Hendrik de Jager kontak met navrae en inskrywings. Skryf per e-pos in by oudtshoornbowls@gmail.com of skakel 082 418 7009. (Deur Stefan Skapie Goosen)