Weavers span rugbybulle in vir hul groot trek

Arran Bastable (Barrydale Hand Weavers se eienaar) het van die dienste van Barrydale United Rugbyklub se spelers gebruik gemaak om sy onderneming se weefstoele na hul nuwe perseel by die ou Barrydale Kelder te skuif. Die fabriek maak dié naweek amptelik oop. (Foto verskaf)

Barrydale United se rugbymanne was dié week in ’n nuwe soort kragmeting betrokke toe die spelers ingespan is om die Weavers te help trek.

Elke spier, elke bietjie vernuf en ook elke greintjie entoesiasme wat die manne op die rugbyveld toepas is gebruik om die groot masjiene waarvoor die dorp bekend is, te skuif.

Die Barrydale Hand Weavers het ter voorbereiding van die opening van hul nuwe fabriek en winkel al hul weefstoele na hul nuwe perseel by die voormalige Barrydale Kelder geneem en sien daarna uit om Saterdag, tydens Barrydale in Bloom, hierdie spasie aan die publiek bekend te stel.

“Ons poog altyd om so veel as moontlik werksgeleenthede in ons gemeenskap te skep en ons dink toe, wie dan beter om die weefstoele te skuif as hierdie groep jong rugbyspelers,” het Weavers se eienaar, Arran Bastable, verduidelik.

Die Barrydale United Rugbyklub is een van drie klubs op die dorp en het ontstaan omdat die lede nie betrokke wil raak by klubpolitiek nie. By United gaan dit net oor rugby en die span, wat oorwegend uit hoërskoolseuns bestaan, het reeds uitstekend gevaar in raakrugbytoernooie.

Bastable het natuurlik die groep manne so bekyk en reeds begin wonder hoeveel van hulle hy by sy nuwe fabriek in diens sal kan neem. “Die gees onder hierdie spelers is uitstekend. Dit gee ’n mens hoop vir die toekoms en ek weet sodra ons teen volle stoom hier werksaam is, sal ons van hierdie manne inspan om deel van die dorp se weefkultuur te word.”

Bastable het as deel van hul betaling ingestem om ’n paar rugbytruie te borg.

Hy nooi ook ander plaaslike ondernemings om sy voorbeeld te volg.

Intussen wemel dit behoorlik van lewe by die dorp se ou kelder, wat reeds voor die begin van die pandemie leeg gestaan het. Weens die Weavers se betrokkenheid is die ou geboue oorgeverf en kan besoekers hul ook gereed maak om weer die wêreldbekroonde Joseph Barry brandewyn hier te proe.

Die proelokaal, wat naby aan die plaaslike erfenistuin geleë is, sal ook tydens hierdie naweek se Barrydale in Bloom oop wees vir die publiek. (Deur Mickey Mentz van News62)