Wokeness staan sterk en kunstenaars is sonder werk, Cyril se paddas is in die pot en Ace is besig om te plot. Eskom se volgende reddingspakket is ’n hamper met Blitz & charcoal, Woolies verkoop nou ratel-vriendelike heuning. Dolla is 21 jaar in die bedryf en Ouma Dowe Dolla kom vir ’n lang kuier, wat alles beteken dat Suid-Afrika in groter moeilikheid is as wat ons besef het. Dinge sal moet verander, dis nou of nooit!
DAAR is nog ’n beperkte aantal kaartjies beskikbaar vir die twee laaste vertonings van Dowwe Dolla, een van Suid-Afrika se mees bekende blondines, op ’n Oudtshoorn-verhoog.
Dowwe Dolla: Nou of nooit! is op Vrydag en Saterdag, 29 en 30 Oktober, as ’n buitelugproduksie by Karusa in Schoemanshoek buite Oudtshoorn te sien.
“Dié twee optredes is Margit Meyer-Rödenbeck se laaste vertoning met dié karakter, wat gehore vir meer as 20 jaar laat skaterlag het,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK.
“Dowwe Dolla was ’n jaarlikse topverkoper by die KKNK.
Aan Dolla-ondersteuners en diegene wat nog nooit vir Dolla op die verhoog gesien het nie: Hierdie is julle laaste kans.
Coenraad Rall sluit op klavier by haar aan vir twee onvergeetlike optredes.”
Volgens Meyer-Rödenbeck kan mens amper sê Dowwe Dolla is op die verhoë van die KKNK gebore en getoë.
“Dit sou net só verkeerd wees om met haar uittrede aan die einde van die jaar nié ’n draai in die Klein Karoo te maak om koebaai te sê nie. Dit is vir my hartseer om te dink dis haar laaste stiletto-trippel, want Oudtshoorn en sy mense was nog altyd net goed vir Dolla en natuurlik ook vir my. Gelukkig tree ek nog nie uit nie!” skerts sy.
Volgens Rall word Oudtshoorn deur volstruise, die nalatenskap van CJ Langenhoven en die KKNK gekenmerk.
“As een van dié drie nie meer bestaan nie, is daar ’n gat in die kultuur-ekosisteem van die Klein Karoo.
Daarom sien ek reikhalsend uit om weer op Oudtshoorn te gaan optree.
Dit is ’n lewensaar vir die kunste en kunstenaars,” meen hy.
Dowwe Dolla het aanvanklik beplan om haar stiletto’s einde verlede jaar op te hang en haar lollie op Gumtree te verkoop, maar sy sê antie Corona en haar niggie Nkosazana het ’n stokkie daarvoor gesteek.
Nou egter vat Dolla die pad om haar koebaai’s te sê.
Dowwe Dolla: Nou of nooit!, met teks en regie deur Jurgen Human, is op Vrydag 29 en Saterdag 30 Oktober om 19:00 by Karusa as te sien. Elke optrede duur 80 minute.
Daar is ’n ouderdomsbeperking van 16 jaar, aangesien Ouma Dowe Dolla nie ’n wag voor haar mond het nie.
Kaartjies kos R150 per persoon en is by Quicket beskikbaar.
Alle Covid-19-regulasies sal nagekom word en lede van die gehoor moet te alle tye ’n masker dra.
Vir navrae, kontak die KKNK-kantoor by 044 203 8600, stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337, of e-pos info@kunste.org.za.
