Poem Mooney skryf oor dinge wat sy hart laat huil: verval, weerstand teen inenting, en die komende verkiesing waar ons, die stemvee, nugter sal moet stem.
Ek het vanmôre met ’n gejaagdheid in my gees wakker geword. Die deurmekaar geploeter van ons mense deur die strate van ons pragtige dorp het my tot die groot onrustigheid gestem. In my hart huil ek oor die werkloses, moedelose mans en vroue wat weerstand bied teen die besetting van vreemdes wat ons woonbuurte vernou. Kyk maar net hoe lyk ons eens trotse Hoogstraat.
Ek dink onwillekeurig aan die munisipaliteit se verwronge idees van dienslewering. Ons worstel met swak of geen behuising, slegte paaie en heffing van uitermate hoë belasting, wat die hongersnood van mense verdiep en hulle uit pure moedeloosheid tot die bedelstaf dryf.
Wat my nog verder ontstel het, is die feit dat ons mense steeds weier om hulle te laat inent teen die Covid-19-virus. Ons doen mee dat ons mense weerloos gelaat en sommige graf toe gestuur word. Diesulkes glo nog bangmaakstories en opruiende voorspellings deur Proseliete en “profete met leuengeeste” wat op sosiale media bedrog pleeg. Ewe skielik het mense wat op skool beswaarlik Omgewingsleer kon baasraak, nou ontaard in “viroloë en bobaas-teoloë”.
Omdat baie van ons die valse inlig-ting glo, is hulle besluiteloos, soveel so dat hulle vandag nog by die kruispad staan en ’n besluit moet neem tussen “Jas en sis”.
Ek ken die storie van die predikant wat met ’n pasgetroude lidmaat oor “vals gerugte” verskil het. Die lidmaat wou nie inent nie. Soos daglig onthou ek die predikant se woorde: “Ek kan jou nie dwing om te besluit nie. Ek respekteer jou keuse. As jy dan nou wil doodgaan, bly by jou besluit. Maar een ding wat ek weet – die dag na jou dood sal ek weer jou vrou trou, met ’n ander man, wat nie so onverskillig is soos jy nie”.
Nodeloos om te sê, die man het terstond besluit om te vaksineer.
Ek dink aan die komende plaaslike regeringsverkiesings. My entoesiasme is omtrent op ’n “hard lockdown” (Vlak 9!). Ek het vir myself gesê: ’n mens moet nugter wees as jy jou kruisie gaan trek.
Dis hier waar my vriend Chief John Jansen se storie by my opgekom het.
Sy pa, Oom John, was ’n slagter vir die Griekwas, met die gevolg dat daar altyd genoeg afval, pens en pote was. Sy ma was Alice, oftewel Ellie – ’n tuis-teskepper, ’n wyse moeder van formaat. Ek en Chief Jansen het gesels oor die pas afgelope Erfenismaand en dit is hier waar hy my die wonderlikste stories, deernisvol, vertel oor sy ouers.
Hy praat van “erflike nalatenskap” en “ingeskape nalatenskap”. Oor nugterheid en dronkenskap het sy ma die volgende waarskuwing tot hulle gerig: “My kinders, ek is tagtig. Ek is nie tagtig gebore nie, ek het tagtig geword. Al wat ek vir julle kan sê: wyn hou nooit sy akkoord nie.”
Op grond van daardie storie, wil ek vandag reguit met die stemvee in ons omgewing praat. Ek wil weer waarsku: Stem nugter! Ons het ’n ingeskape nalatenskap van wysheid ontvang. Dis immers net die Here wat Sy akkoord hou. Hy soek nie guns of verdienste van mense nie.
Ek het die Bybel toegemaak, in my motor geklim en deur die dorp gery. Daar het hulle op plakkate teen die pale gehang – nie gekruisig ten dode vir diensbaarheid nie, maar teen die pale gehang vir guns.
Ek het verder gery en gesukkel om die knop in my keel gesluk te kry. Terwyl ek gesukkel het om die lastige traan uit my oë weg te pink, het ek saggies geprewel: “Here kom kyk!”
