Briewe van lesers

Oudtshoorn weer op pad afgrond toe

Ek kan nie glo Oudtshoorn laat weer toe dat die ANC-kaders die raad en dorp oorneem nie. En dit ’n maand voor die algemene munisipale ver­kie­sing.

Het julle nie geleer uit wat gebeur het in die termyn toe die ANC in beheer was 2011 tot 2016 nie? Oudts­hoorn word wakker! Hierdie korrupte raad het die munisipale rekening geplunder; van sowat R120miljoen in die bank toe hulle oorgeneem het na ’n oortrokke re­ke­ning van sowat R90miljoen in die rooi.

Hulle het Gordon April as bur­ge­meester en Noel Pie­tersen as munisipale bestuurder aangestel. Albei is na hulle termyn aangekla van die onreëlmatige gebruik van munisipale geld en deur die hof gevangenisstraf opgelê.

Nou stel die ANC met hul meelo­-pers weer onreëlmatig vir Walter Hendricks aan as munisipale bestuurder; ten spyte van ’n hofbevel wat sê sy aan­stel­ling is onreëlmatig en aanstellings mag nie gedoen word voor die hersie­ningsaansoek klaar verhoor is nie. Hendricks is van die George Munisipaliteit weg na­dat hy aangekla is van onreëlmatig­hede in die munisipaliteit. Wat voorspel dit vir Oudtshoorn? Wil julle wragtig weer met sulke mense aan beheer sit?

Gordon April en sy spul ANC-raads­-lede het ’n tussenverkiesing verloor en ’n minderheid geword, maar geweier om die beheer af te gee. Dit het die munisipaliteit R11miljoen se regskoste uit die sak gejaag voor daar van die korruptes ontslae geraak kon word. Oudtshoorn, wil julle weer hierdie par­ty aanstel om die dorp se finansies te beheer? Waar is die provinsie se Anton Bredell om hulle te stop?

Oudtshoorn-kiesers, word wakker as­­se­blief. Daar is net een manier om die ANC-geldhongeriges weg te hou van jul swaarverdiende geld. Gaan stem DA op 1 November al hou jy nie van die DA nie. Dis die enigste party wat goeie munisipale bestuur kan toepas. Van die 20 bes bestuurde munisipa­li­teite in die land is 19 onder DA-beheer. Die feite spreek vanself!
– Nic Barrow

Red Oudtshoorn van korrupsie

Spesiale Ondersoekeenheid, die SOE, het sopas ’n verslag uitgebring en bevind dat daar op alle staatsvlakke endemiese en wydverspreide wanadmi-nistrasie, wanpraktyke en korrupsie is.

Dit is hoogs ontstellende nuus. Dis ons belastinggeld wat daar so gesteel word en veroorsaak dat die verskeie staatsdepartemente nie hulle werk kan doen nie.

Verder weet ons ook dat hierdie staatsdepartemente deur die regerende party, die ANC, vol gestop is met sy kaders. Dit is dus baie duidelik dat die ANC korrup is en net belangstel om hulleself te verryk met belastinggeld. Hulle het nie ’n saak met die mense wat hulle veronderstel is om te dien nie.

Hierdie selfde ANC het tans ’n hofbevel geminag en hulle kader, Walter Hendricks, in Oudtshoorn aangestel as die nuwe munisipale bestuurder – ’n maand voor die algemene munisipale verkiesing. Hoekom gaan hulle tot sulke uiterstes? Die antwoord is eenvoudig. Hulle wil hulle hande op munisipale geld kry om hulle verkiesing in Oudtshoorn te finansier. Hulle ry al klaar met munisipale bakkies rond om plakkate op te sit.

Wil jy die ANC die kans gee om ook Oudtshoorn gedurende die volgende vyf jaar kaal te steel soos hulle op alle staatsvlakke doen? Dan is daar glad nie geld oor om dienste te lewer en die dorp te bevorder nie.

Wil jy nou regtig vir hierdie korrupte party in die komende verkiesing stem en Oudtshoorn vir vyf jaar aan die wolwe uitlewer? Ek doen dus ’n beroep op alle kiesers om op stemdag vir enige party van jou keuse te stem, behalwe vir die ANC.

Red Oudtshoorn asseblief van ’n ramp.
– Leon Coetzee, Oudtshoorn

Wetteloosheid in Oudtshoorn…

In Oudtshoorn heers algehele wette­loos­heid waarvoor die politieke leiers die verantwoordelikheid moet neem.
Ek wys slegs die algemeenste en kritiekste uit.

  1. Wat die informele gebiede betref, heers hier ’n “free for all”-gees. Enigeen kan maar enige plek ’n struktuur opslaan sonder om by enigiemand toestemming te kry.
  2. Motors parkeer in die hoofpad na De Rust op die padskouer binne die geel lyn. Selfs Saterdae en tydens begrafnisse staan voertuie daar. Dit is ’n ernstige oortreding en lewensgevaarlik.
  3. Die buitelanders slaan strukture op net waar hulle kan, sonder toestemming. Hier word alle onwenslike “goedjies” verkoop.
    Ons het nou ’n nuwe burgemeester en almal het gehoop dat hy hieraan ’n einde sal maak deur die wetstoepassers (Law Enforcement) te gebruik. Nee, hy poseer eerder met mense oor toilette.
    Die leiers wat bereid is om die verkeerde aan te spreek en nie gewilde uitsprake maak nie, moet nou na vore kom.
    – Krulkopseun, Oudtshoorn