Vyf van Dysselsdorp vrygespreek

VYF mans van Dysselsdorp wat tereg gestaan het op twee klagtes van menseroof en twee van poging tot moord, is verlede week in die Oudtshoorn Streekhof onskuldig bevind.

Shane August (19), Walter Abrahams (21), Patrick Prins (29), Deshwill Lingerveld (35) en Tadeo Sibanda (27) is daarvan aangekla dat hulle op 26 Oktober 2020 twee mans, Lee-Marco Tamboer (26) en Adriaan Hector (26), in die kattebak van ’n motor gedwing en later ernstig aangerand het.

Tamboer het vroeër getuig dat die vyf verdagtes hulle buite ’n dansplek in ’n wit Volkswagen Golf ingedwing het oor ’n selfoon wat hulle glo gesoek het.

Hulle is eers na ’n plek bekend as die “Piff” geneem waar hulle aangerand is. Hulle is daarna na die Dysselsdorp Sportstadion geneem waar hulle verder aangerand is.

Streeklanddros Sylvia Mandla het bevind dat die staat nie daarin geslaag het om die vyf se skuld bo redelike twyfel te bewys nie en hulle vrygespreek. (Deur Garnett Wicomb)