Lucky nie so gelukkig

’N MAN van Gugulethu is verlede week in die Oudtshoorn Streekhof aan dwelmhandel en korrupsie skuldig bevind.

Die 33-jarige Lucky Mlindi is op 21 Maart 2017 by ’n weegbrug buite Beaufort-Wes vasgetrek toe die polisie plastieksakkies met Mandrax-tablette ter waarde van sowat R2,6 miljoen onder die Amarok Volkswagen-bakkie ontdek het.

Hy het toe ’n polisiebeampte, sers. Patrick Blaauw, probeer omkoop terwyl die rybewys wat in sy besit was nie aan hom behoort het nie.

Sers. Neil Damon het getuig dat hy die sakkies onder die bakkie opgemerk het toe hy agter die bakkie gestaan het.

Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof versoek om Mlindi se verweer dat hy nie van die dwelms bewus was nie te verwerp.

Die saak is op versoek van Mlindi se regsverteenwoordiger deur streeklanddros Ntsoki Moni tot 16 Februarie uitgestel. (Deur Garnett Wicomb)