DIE verhoor van die vier verdagtes wat van die 2019-moord op Justin Booysen van Rosebank aangekla word, is verlede Woensdag in die Oudtshoorn Streekhof na 17 April uitgestel.
Simphiwe Ndoni (32), Ephrahim Malgas (42), Breyton Bruiners (24) en Lorenzo Malgas (25) pleit onskuldig.
Volgens Ndoni het hy die betrokke aand na ’n vuurwapen gegryp wat Jessy Dyssel op hom gerig het. ’n Skoot het afgegaan wat Booysen getref het.
Die beskuldigdes word aangekla van moord, poging tot moord, aanranding met die opset om ernstig te beseer en die onwettige besit van ’n vuurwapen.
Ephrahim “Speekbout” Malgas is ook aangekla van sameswering om die moord te pleeg.
Die vyfde staatsgetuie, Shane Saptouw (26), wat saam met sy tweelingbroer Shaun by Booysen (hul neef) gewoon het, het Woensdag getuig dat die beskuldigdes die aand van 17 November 2019 saam met nog mans by Booysen se huis ingestorm het.
Volgens Saptouw het hy die groep van sowat tien mense in die pad sien aankom. Lorenzo Malgas het volgens hom die skuifhek toegetrek en met ’n mes gekeer dat niemand anders die perseel betree nie.
Saptouw en sy broer het toe in ’n gangetjie afgehardloop en sy broer het oor ’n muur gespring om binne die erf te kom. Hy (Shane) is na ’n vriend bekend as “Maboet” toe om hulp te kry, maar Maboet was nie tuis nie.
Met sy terugkeer het hy Booysen in ’n plas bloed op die sitkamervloer sien lê. Hy het sy broer gevra om hom te help om Booysen in sy motor te kry en hom saam met “Whitey” (Christopher Stols) na die hospitaal geneem.
Wenzel Botha, regsverteenwoordiger van Ndoni en Ephrahim Malgas, ontken hulle betrokkenheid.
Malgas en Bruiners se regsverteenwoordigers, adv. Benito Metembo en Clayton Sampson, het dit aan Saptouw gestel dat sy weergawe verskil van sy polisieverklaring sowel as die weergawe van sy broer.
Metembo het dit aan Saptouw gestel dat hy ’n oneerlike getuie is en Bruiners nie sy neef doodgeskiet het nie.
Oor sy verklaring aan die polisie wat van sy getuienis in die hof verskil, het Saptouw getuig dat hy baie verward was met die aflê daarvan. Hy het egter erken dat hy dit as korrek onderteken het.
Die polisiebeampte wat die verklaring afgeneem het se handskrif was glo baie onduidelik.
“Ek kon nie lees wat hy skryf nie. Ek kon nie alles uitmaak nie,” het hy aan Metembo gesê.
Volgens Metembo sal Lorenzo Malgas kom getuig dat hy nie by die hek gestaan het nie en ook nie ’n wapen by hom gehad het nie.
Op ’n vraag van die landdros of die hek heeltemal of gedeeltelik toe was, het Saptouw gesê: “Die hek was toe, Edelagbare; totally closed.”
Die landdros het hierop gesê dat hy nie oop kaarte met die hof speel nie omdat hy vroeër gesê het die hek was “gedeeltelik toe”.
Die saak dien voor streeklanddros Kenneth Peters van Kaapstad en is Woensdag vir vier dae se verdere verhoor (17, 18, 20 en 21 April) uitgestel. Bruiners en Lorenzo Malgas se borgtog is verleng.
Ndoni en Ephrahim Malgas dien tans tronkstraf van onderskeidelik vyf en drie jaar uit.
• Die hofsaal was Woensdag weer net soos die vorige twee dae stampvol.
• Die landdros het Dinsdag, ná klagtes van Ndoni en Ephrahim Malgas dat hulle nie kos by die tronk kry om tydens middagete te eet nie, die korrektiewe beamptes gevra om die saak met die tronkhoof te bespreek en reg te stel.
“Dit is onaanvaarbaar en onmenslik om gevonnisdes vir ’n dag hof toe te bring sonder ’n stukkie brood om te eet,” het die landdros gesê. (Deur Garnett Wicomb)