OUDTSHOORN se eerste bruin balju is verlede Saterdag vanuit die Bridgton Apostoliese Geloof- sendingkerk begrawe.
Die 69-jarige Reginald Cupido, wat in 2002 as balju op Oudtshoorn begin werk het, is op 18 Januarie oorlede. Hy het ’n paar jaar gelede afgetree.
Die diens is gelei deur pastoor Leon Prinsloo van die Greenhaven AGS op Groot- Brakrivier wat die familie na aanleiding van Romeine 14:8 getroos het – “of ons lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here”. Hy het in sy boodskap mense gemaan om nie vrae oor die dood van Cupido te vra nie. “God was by die dag wat hy dood is en as jy nie daar was nie, bly stil. ’n Mens hoor baie liegstories by begrafnisse. God het Reggy geseën – wie is ek en jy om te kom oordeel?” het Prinsloo gevra.
Eugene Petersen het in sy huldeblyk aan sy skoonpa gesê dat hy hom sal onthou vir die lekker kos wat hy kon kook en sy aanmoediging om altyd jou drome na te jaag. Sy skoonpa was ’n groot sportliefhebber en volgens hom sal hy sy liefde, vriendskap, gewillige oor, sy geduld en glimlag nooit vergeet nie.
’n Boesemvriend van Cupido, Phillip Coerecius, het in sy huldeblyk sy vriend beskryf as ’n pynlik netjiese mens. ’n Man wat baie lief was vir kosmaak en iemand wat nooit geskroom het om sy medemens te help in tye van nood nie – dikwels ten koste van homself.
“Kieppie het die laaste tyd vir my gesê dat geld, waar jy bly, wat jy ry, waar jy werk en wat jy doen alles tydelik is en net Jesus is vir ewig. Jou waarde word nie bepaal deur aardse dinge nie maar wie jy in Jesus is.” Cupido was ’n boorling van Bellville-Suid en het by sy ouma grootgeword. Hy het op ’n vroeë ouderdom by die polisie aangesluit en later lank as adjunk-balju in Bellville gewerk voordat hy Oudtshoorn toe getrek het.
Hy word oorleef deur sewe kinders, sewe kleinkinders en een agterkleinkind. (Deur Garnett Wicomb)
Oudtshoorn se 1ste bruin balju begrawe
Kinders van wyle Reginald Cupido dra Saterdagoggend op Oudtshoorn sy kis uit die kerk. Foto’s: Garnett Wicomb