Tronk vir ouma (54) wat kleinkind met ’n mes in die kop steek

“DIT was ’n sinnelose aanranding.”

So het streeklanddros Daniel Boks Maandag gesê toe hy die 54-jarige Maria Andries van Gamka-Wes, Calitzdorp, tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis het.

Andries het skuldig gepleit en erken dat sy op 28 September 2019 haar dogter met ’n mes wou steek oor haar oormatige drinkery.

Sy was self onder die invloed van alkohol en het toe per abuis haar kleinkind, wat in haar dogter se arms was, in die kop gesteek.

Volgens ’n mediese verslag was die wond nie lewensgevaarlik nie Brian Carelse van die regshulpraad het die hof vir ’n opgeskorte vonnis gevra.

Die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies het die hof egter vir direkte gevangenisstraf gevra omdat Andries aan ’n ernstige misdryf skuldig bevind is.

“Die beskuldigde drink haar dronk en word dan aggressief.” het Plaatjies gesê.

Boks het met vonnisoplegging gesê Andries was onverantwoordelik en het ’n sinnelose daad gepleeg. Die hof moet ’n vonnis oplê wat ander mense sowel as die beskuldigde sal afskrik.

Hy het in ag geneem dat Andries skuldig gepleit het en berou toon oor wat sy gedoen het en afgewyk van die minimum vonnis van tien jaar, maar by­gevoeg dat ‘n opgeskorte vonnis onvanpas sal wees.

Andries is ingevolge Artikel 276 (1) (i) gevonnis wat bepaal dat sy ná die uitdiening van ’n sesde van die vonnis om parool mag aansoek doen.

Sy is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit. (Deur Garnett Wicomb)